Jesus staan vir jou in die ry
Die hoogtepunt van ons geloof, dit wat ’n mens se mond laat oophang, wat eintlik heeltemal te groot vir ons verstand is om te begryp, is dat Jesus, die Seun van God, in ons plek gesterf het.
24Jesus het aan die kruis gesterf. Dit het Hy gedoen om die skuld uit die weg te ruim wat julle voor God opgegaar het deur al die verkeerde dinge wat julle gedoen het.
Hy het nie soos in die vorige bedeling ’n dier laat slag, sodat die dier se bloed betaal vir die skuld van die sonde van die mensdom nie. Nee, Jesus het ons sondes op Hom geneem. Daarvoor het Sy bloed aan die kruis gevloei tot daar geen lewe meer in Sy lyf oor was nie.
Die 1983-vertaling sê: Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra.
Sien jy die prentjie? Van Jesus wat swaar dra aan ons sondes? Vol gepak met straf vir almal se sondes? Dalk dink mens Jesus het nou ’n sondaar geword, maar dis nie waar nie. Jesus was nooit sondig nie. Jesus het Homself in ons plek kom staanmaak en in ons plek die straf gedra.
Ja, eintlik moet ek en jy self met ons bloed en met ons lewe betaal as straf vir ons sonde. Tog kom Jesus vol liefde en druk ons almal uit die ry waar ’n mens wag om te betaal vir sonde, te sterf, waar ons bloed moet loop en ons lewe daarmee saam. Juis hier kom neem Jesus ons plek in.
Onverdiend ontvang ons. Uit God en Jesus se liefde vir die mensdom.
Ek dink nie ons besef presies watter ongelooflike groot opoffering Jesus moes maak nie. Jesus is die Seun van God. God verwag van Jesus om langs Hom van die troon af te klim en Homself te verneder om mens te word.
Jesus aarsel nie vir ’n oomblik nie en aanvaar die opdrag om mens te word. Jesus weet presies wat die pad is wat Hy moet stap. Hy weet wat op die pad gaan gebeur en Hy weet waar dit gaan eindig.
Onthou: alhoewel Jesus 100% God was, was Hy ook 100% mens. Dan verstaan ’n mens hoekom Hy bloed gesweet het en in ’n stadium aan die kruis gevra het dat die beker maar eerder aangeskuif moes word.
Gelukkig druk Jesus deur en laat toe dat Hy gekruisig word in plaas daarvan om ’n makliker uitweg te kies.
Ek is so dankbaar dat God vir Jesus die Sondag uit die graf laat opstaan het. Dit is toe volbring. Die liefdevolle plan van God om die mens te red van ewige verderf is suksesvol deur Jesus afgehandel.
Dit is die heel grootste gebeurtenis in die mensdom se lewe. Nooit ooit weer hoef ons te sterf, ons bloed te laat vloei, of self te betaal vir die straf van ons sondes nie. Jesus het in die ry gaan staan en al ons skuld betaal! God dank!
Teks
1 Petrus 2:22-25
Om oor na te dink
Sien jy Jesus in jou plek in die ry staan?
Wat maak dit aan jou?
Leef jy dit?
Gebed
Jesus, hoe sê ’n mens dankie dat U in my plek in die ry staan om te betaal vir my sondes? U het in my plek gesterf vir die straf van my sonde. Mag my lewe net van dankbaarheid getuig. Amen.