Jou beloning kom
Hulle sê mos: A Christian’s benefits is out of this world. En dit is so! Ons beloning kom eers in die lewe hierna.
So wanneer ons hier werk, moet ons nie vir ons base hier op aarde werk nie. Hulle is almal maar net mense en gaan ons om elke hoek en draai teleurstel. Ons moet vir ons hemelse Vader werk. Hy sal ons nooit drop nie. Hy wil vir ons net die beste gee.
24Die Here sal vir julle gee wat julle verdien; daarvan kan julle seker wees. Julle sal by Hom in sy nuwe wêreld gaan bly en daar alles geniet wat Hy vir julle sal gee. Want die eintlike Baas vir wie julle werk, is mos Christus. En hierdie Baas trek niemand voor nie.
Wanneer ’n mens besef dat jou werkplek jou roeping is, werk ’n mens makliker. Wanneer jy besef dat jy eintlik vir God werk, werk ’n mens nóg makliker. Sal ’n mens dan ooit vir God wil teleurstel? Sal ’n mens tydjies agter die aardse baas steel en my eie ding doen? Ek dink nie so nie, veral as ek weet ek werk eintlik vir God.
Wanneer ons vir God werk en weet dat ons eintlike betaling vir ons dienste gelewer eers in die ewigheid hierna kom, is ons tevrede met wat ons by die werk kry en sien ons uit na al die bonusse wat ons in die hemel gaan kry.
Beteken dit nou dat ons tevrede moet wees met wat ons het en nie droom van ’n verhoging of ’n groter of beter pos nie? Moet ek nou maar net daar sit, al word ek skeef behandel? Nee, ek dink nie so nie. God verwag van ons om op te staan teen onreg, ook vir ander mense wat dalk self nie by magte is om op te staan nie.
Dalk is die seisoen in daardie pos nou eers verby en het God vir jou ’n ander posisie in die oog. ’n Ander plek waar Hy jou roep om vir Hom te gaan werk. Daarom is dit so belangrik dat jy op dieselfde golflengte as die Heilige Gees is, want dis net hier waar jy kan hoor waarheen God jou roep.
En hiermee moet ons erns maak. Soms is Paulus baie reguit en hy draai nie doekies om nie. 25As iemand dus nie doen wat God wil hê nie, sal hy maar die straf daarvoor moet dra. Ek is nogal nie lief vir so ’n swaard oor my kop nie, maar soms moet ons maar die waarheid met mekaar praat. As ons gaan lyf wegsteek en nie doen waarvoor ons aangestel is nie, kan ons nie verwag dat daar ’n groot bonus in die Ewige Lewe op ons wag nie. Inteendeel! Volgens Paulus kan ons pak kry.
Of jy nou hier werk of daar werk, weet dat jy eintlik vir God werk. Doen die beste na jou vermoë. Wys vir die mense rondom jou hoe ’n ster werknemer lyk. Wys ook deur jou dade dat jy eintlik vir ’n beter baas werk. Wag geduldig, want eendag wanneer die ewigheid aangebreek het, kom jou dik bonus. Dan sal jy vir seker die lekkerste lag.
En as jy die Baas is, moenie dink jy word oor ’n ander kam geskeer nie: 1Base, behandel julle werkers regverdig en eerlik. Julle besef natuurlik dat julle ook ’n Baas in die hemel het.
Teks
Kolossense 3:18-25
Om oor na te dink
Vir wie werk jy?
Hoe sien ander mense dit raak?
Kan jy wag vir jou bonus?
Gebed
Vader, U weet dit is nie altyd maklik by die werk nie. Help my om verder as net my omstandighede te kyk. Help my om te vertrou dat U my hand sal neem. Dankie dat ek vir my beloning by U kan wag. Amen.