God se Woord in vandag se woorde

Jou beloning vir jou vaste geloof


’n Mens moet versigtig met die Woord van God omgaan. Ons moet besef dat ons met ’n spesifieke bril die Bybel lees en dat die bril die waarhede kan skeeftrek. Neem byvoorbeeld die volgende vers: 35Moet dus nie toelaat dat daar ’n krakie in julle vertroue op God kom nie. Wie op God bly vertrou, sal ’n groot beloning by Hom kry.

‘n Mens kan nou maklik dink dat as jou vertroue in God geen krake in het nie, jou finansiële krisis dadelik opgelos gaan word. Daardie goggas in jou gesondheid gaan soos mis voor die son verdwyn of ‘n huwelik wat op die rotse is, gaan nou ewe skielik op honeymoon. Maar dis nie waarop die beloning hier dui nie.

Natuurlik kan God enige van die bogenoemde in jou lewe laat waar word. Hy is mos almagtig, maar wanneer ons met alles in ons aan ons vertroue vashou, is die beloning eerstens dat ons oorval word deur gemoedsrus.

Kom ek verduidelik dit so. Toe ek in die weermag was, was ek eintlik nooit bang nie, want ek het geweet dat die toerusting wat ons het en die kennis wat in ons koppe ingedril is, ons ’n voorsprong bo die vyand gegee het. Ek het totale gemoedsrus gehad en geweet ons was baie goed opgelei vir die werk wat ons moes gaan doen.

Bloot die wete was gerusstellend, maar as ek onseker was, oftewel ’n kraak in my vertroue gehad het, sou ek baie onrustig wees en sou spanning my teen die mure uitgedryf het.

Wanneer my vertroue in God sonder krake is, is die netto-effek dat ek rustig te midde van die krisis kan wees. Die beloning vir die vaste vertroue is dat my gemoed rustig sal wees, want God sal my beskerm. Hy sal my krag gee. Ek weet Hy sal my wysheid gee en dan vind ’n mens rus. Dis die eerste beloning.

Die tweede loon is die grootste prys wat op elke kind van God wag en dit is die vir-altyd-lewe saam met God. Ons beloning is soos die Engelsman sê: “Out of this world!” Letterlik en figuurlik. Ons beloning is so groot, dat ons dit nie eintlik in woorde kan vasvat nie.

Ons beloning is egter ook na hierdie wêreld, wanneer ons tyd hier op aarde verby is. Dan los ons die wêreld met sy swaar en seer agter en stap die paradys in waar ons saam met ons broer, Jesus, vir die res van ons lewe saam gaan baljaar. Die lekkerste lekker vir altyd.

Wanneer God sien dat ons vertroue in Hom vasstaan, al gaan dit swaar en al daal die een na die ander krisis op ons neer, sal Hy ons met graagte wil beloon. Hy sal selfs ‘n deel van ons lewe hier op aarde vir ons met belonings bederf. Hoe kan ons dan nou nie vashou aan ons geloof in God nie?

Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar. As mense nie op God vertrou nie en Hom nie as Verlosser in hulle lewens erken nie, gaan hulle ’n beloning ontvang wat hulle duur te staan gaan kom.

Mag ons tog nie ons geloof in God verloor en eendag saam met dié mense in die verkeerde ry staan nie.

Teks
Hebreërs 10:31-39

Om oor na te dink
Hoe sterk is jou geloof?
Vir watter beloning wag jy?
Wie kan jy help om die beloning ook na te jaag?

Gebed
Vader, dankie vir die belofte. Ja, soms duik my geloof in die hek, maar ek probeer dan weer. U is die Een op Wie ek met alles in my vertrou! Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek