Jou Motiveerder
Ek drink nie energiedrankies nie. Ek dink ek het genoeg vet en suiker vir my liggaam om wanneer my batterye pap is, krag êrens uit te trek. Ek weet in ieder geval nie hoe gesond so ‘n hoop suiker en kafeïen nou vir ’n mens kan wees nie.
Ek is met vakansie en soos in die fliek, net andersom, is dit two weddings and a funeral en nog ’n traumageval ook. Alles terwyl ek in die Suid-Kaap is en elke keer Kaap toe moet ry.
Met die laaste ene begin die ryery aan my vat en ek dink ek het dalk ’n té groot vrag afgebyt en die moegery begin my letterlik en figuurlik te bekruip. Ek sê mos altyd daar is nie ’n tweede oogknip as jy moeg is nie, want na die eerste een raak jy aan die slaap.
Ek besluit dat ’n Red Bull tot my hulp moet kom. Ek koop maar uit my aard ’n suikervrye een, want jy weet mos al. En wraggies waar, daar motiveer die klein blikkie my om deur te ry tot by die kampplek.
Ek dink nie dis die kafeïen nie, want ek het ’n hoop koffies al in, maar bloot die feit dat my kop sê ek het mos iets in, motiveer dit my en ry ek lekker sonder om een keer my oë te knip.
Dis maar hoe ek met my eie kop smokkel, nè?
Baie keer het ons net so ’n stootjie nodig om ons deur die moeilikheid te kry. ’n Motiveerdertjie om ons hand te vat en te sê: Toe nou, hou maar net aan, die einde is om die draai.
Baie keer in ons geestelike lewe het ons ook ’n motiveerder nodig. Iets of iemand wat vir ons aanhelp om te bly glo. Ja, so maklik steel die wêreld mos ons geloof.
Dan wonder ons of Jesus regtig hier was en of Sy sterf aan die kruis vir ons genoeg is? Voor ons ons kom kry, het ons kop so met ons gesmokkel dat ons heeltemal spoed verloor het en nou twyfel.
Weet jy dat God self getuig oor Jesus? God getuig deur Sy Gees, selfs deur mense van die kragtige werking van Jesus. God getuig deur die kruisdood en opstanding dat Jesus werklik Sy Seun is.
God druk Sy stempel van goedkeuring op Jesus se Verlossingsdaad aan die kruis en sê eintlik dit is oorgenoeg. Dit wat Jesus aan die kruis reggekry het, was genoeg om die sondeskuld van al die mense op aarde te dra.
God is ons motiveerder. Hy help ons om te bly glo. Hy help ons om wakker te bly en nie toe te laat dat ons geloof gesteel word nie. Hieraan moet ons te alle tye vashou
Die wat nie God se getuienis oor Jesus snap en glo nie, is vir seker in die moeilikheid. Dit is ons verantwoordelikheid om dit wat God getuig, uit te lewe aan die mense om ons.
Laat ons ander motiveer om tot geloof te kom. Laat ons lewe getuig, soos God getuig, van Jesus wat ons Verlosser is.
Teks
1 Johannes 5:7-21
Om oor na te dink
Sukkel jou geloof soms?
Wie is jou motiveerder?
Motiveer jy ander?
Gebed
Vader, dankie vir die getuienis van Jesus. Laat ek dit ook ander motiveer. Amen.