God se Woord in vandag se woorde

Jy is ’n erfgenaam


My ma het lank voor haar dood ons kinders eendag by die huis bymekaargemaak. Sy het besluit dat alles wat in haar boedel se mandjie gaan opeindig, daardie dag ’n eienaar gaan kry.

So het ons, van die oudste tot die jongste, elkeen ‘n beurt gekry om iets te kies en dit is op ’n lys gesit met jou naam op. So het ons aangegaan, totdat al die waardevolle items ’n eienaar gekry het.

Die dag met haar afsterwe, was alles netjies uitgesorteer en almal het gekry wat ons jare terug al op daardie stuk papier geskryf het. Al het daar in die tyd al ’n heelparty skoonkinders en selfs kleinkinders bygekom, was hulle nooit deel van daardie papier nie. Dis net my ma se eie kinders wat in die ry gestaan het.

Wanneer dit by Jesus se erfporsie kom, word ons nie soos skoonkinders behandel nie. Nee, ons word soos eie bloedbroers en bloedsusters hanteer. Ons erf presies dieselfde as wat Jesus kry.

By die kruis het Jesus meer gedoen as net om die straf vir ons sondes te neem. Sy bloed wat gevloei het, het ons heeltemal een gemaak met God se familie en daarom is ons naam op die lys en kry ons alles, net soos Jesus.

Barnes (eSword) gebruik ’n baie eenvoudige beeld om dit vir ons mooi verstaanbaar te maak. Klimop (beter beken as “ivy”) wat in ’n akkerboom op rank, is styf teenaan die bas. Sy wortels groei in die groewe van die bas. Tog is die klimop nooit deel van die boom nie. So is ons nie met Jesus nie.

Nee, ons word heeltemal een met Hom. Ons leef met Hom. Sy Heilige Gees leef in ons, met die netto effek dat ons naam ook op die lys staan om saam te deel in die erfporsie: Wat Christus s’n is, is ons s’n as ons enduit vasberade op God bly vertrou soos ons dit aan die begin gedoen het.

Hier is egter ’n vangplek, of nee, eerder ’n voorwaarde. Ons moet ons deel nakom. Ons moet met alles in ons aan die belofte van die erfporsie vashou. Orals langs die pad gaan ouens wie se naam nie op die lys staan nie, jaloers wees en jou probeer wegrokkel.

Die ouens is jaloers op die glinster in ons oë en wil nie hê dat vreugde uit ons straal nie. Hulle gaan met stories kom om ons om die bos te lei en te sê dat dit nie bestaan nie. Ons is simpel om sulke bog te glo.

Dan moet ons opstaan en ons vertroue in God uit die sakkie haal en vir hulle wys dat niks ons uit die Here se hand gaan ruk nie. Ons weet met alles in ons, dat Jesus vir ons gesterf het. Ons weet met ’n vaste vertroue dat ons hier een geword het met Hom en dat ons daarom bloedbroers en bloedsusters is.

Wat ’n ongelooflike vooruitsig vir almal wat glo!

Teks
Hebreërs 3:12-15

Om oor na te dink
Hoe lyk jou erfporsie?
Hoe lyk jou vertroue?
Gaan jy dit maak?

Gebed
Jesus, watter ongelooflike belofte is dit nie? Eintlik is dit te groot vir my om te verstaan. Help my om dit nou deel te maak van my lewe en so te leef! Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek