Julle kry nie, want …
Hoekom stry en baklei mense? Daar is seker baie redes daarvoor, maar een van die grootste redes is, omdat ons nie kry wat ons wil hê nie. Iemand of iets kom staan in die pad van die dinge wat ons wil hê en dan is die gort gaar.
En eintlik soek ons die dinge wat ons wil hê op verkeerde plekke. Die beste plek om vir dinge te gaan soek wat ons regtig nodig het, is by God. Ons moet voor God gaan kniel en vir Hom in gebed vra wat ons nodig het.
2Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. (1983-vertaling)
Wanneer ons iets in gebed vra, sal ons dit kry as dit vir ons goed is, maar as dit nie vir ons beswil is nie, is die kans goed dat ons dit nie gaan kry nie. God sal nie vir ons iets gee wat ons kan benadeel nie.
Jy sien, ons kan nie om die draai sien nie. Ons weet nie hoe môre of oormôre of oor ’n paar jaar lyk nie. Van hier lyk dit heel goed. Die nuwe werk of die verhoging of die groter die of daai, maar ons weet nie wat die impak daarvan op ons lewe gaan wees nie.
Baie keer ontvang ons nie dinge nie, omdat dit ons dalk verder gaan weglok van God af. Dalk raak ons lewe so sag, dat ons God nie meer nodig het nie. God beskerm ons dikwels om nie die dinge vir ons te gee wat ons dink ons nodig het nie. Dis nie altyd maklik vir ons om daarmee vrede te maak nie.
Kyk maar net na al die oorloë in die wêreld. Mense het besluit om die wapens op te tel en ander lande in te val, mense dood te maak, om te vat, om te kry wat hulle wil hê. Teen watter prys? Met oorloë is daar geen wenners nie. Met stry en baklei, is daar geen wenners nie.
Lande wat om onderhandelingstafels gaan sit en met mekaar praat en die dispute op ’n ordentlike manier oplos, behaal baie meer sukses. Wanneer ’n mens in gebed na God toe gaan, is die kans op sukses baie beter. Al kry ons nie wat ons vra nie.
In plaas daarvan dat ons in die wêreld stoei en baklei om dinge te kry, moet ons eerder na God keer. Ons moet Hom vra om ons op ons pad te seën en te gee wat goed is en wat ons nodig het.
Hoe sluit jy jou gebed af? Natuurlik moet ons alles wat ons vra in Jesus se Naam bid, maar ons moet ook sê: “Soos wat dit U wil is.” As jy so bid, het jy reeds vrede as jy nie ontvang wat jy vra nie. Jy is volwasse genoeg om te besef dat God verder sien en nie vir jou iets sal gee wat jou gaan benadeel nie.
Kom ons herlei ons fokus weg van die wêreld af. Ek weet dit is moeilik, want ons is in die wêreld en dis al wat ons raaksien. Dis moeilik om verby die groot bakkies te ry, die mooi huise te sien, onder die groot mense by die werk te wees en nie te wil hê nie.
Maak net seker dat ons dit eerder na God toe neem. Vra Hom dit wat jou hart begeer en sluit dan af met: “As dit U wil is, Vader.” Dan sal jy ontvang soos Hy wil en dis dalk meer as wat jy verwag het!
Teks
Jakobus 4:1-6
Om oor na te dink
Bid jy?
Bid jy genoeg?
Bid jy ook vir ander se behoeftes?
Gebed
Vader, ek besef maar net weer dat ek nie genoeg bid nie. Ek weet dat ek meer tyd met U moet spandeer en juis in daardie ruimte my behoeftes aan U moet bekendmaak. Help my om elke keer te eindig met: “Net soos U dit wil.” In Jesus se Naam. Amen.