God se Woord in vandag se woorde

Ken jou opponent


In die ou dae het die manne hulle togs aangetrek en gaan rugby speel. Niemand was eintlik betaal nie en dit was groot sports. Na die game het almal saam gekuier en laataand tevrede teruggery na hulle eie huis.  

Vandag word sport heeltemal anders benader. Dis amper ’n wetenskap en elke posisie, elke plan word onder die vergrootglas gedruk. Die aanvalspatrone word ontwikkel en verdedigingslinies word een vir een uitgewerk en ingedril. 

Baie tyd word gespandeer om selfs elke speler van die opposisie onder die vergrootglas te sit. Hulle spelpatrone word gefynkam en daar word gesoek na potensiële plekke waar deurgebreek kan word.  

Dit is so belangrik om presies te weet wie die opposisie is. Wanneer jy weet wie die teenstanders is, kan jy jouself daarvoor voorberei. So maak jy dan altyd ’n plan om hulle nie net teen te staan nie, maar aan te val en te oorwin. 

Ons vyand is die duiwel. Baie keer is mense so bang vir hom dat hulle enige geselsie in sy rigting summier die mond snoer. Ons moenie oor hom praat nie, want netnou daag hy hier op. 

Maar hoe moet ’n mens voorberei vir ’n oorlog as jy nie weet hoe die vyand lyk nie? As ons weet wie die duiwel is en hoe hy te werk gaan om ons om die bos te lei, kan ons mos planne in plek kry sodat ons ’n wen gewaarborg word. 

Die duiwel was ’n engel wat God geskape het. Hy was baie mooi en het homself ingewerk in die plek as hoogste engel. Hy het egter om een of ander rede baie arrogant geword oor sy skoonheid en posisie en het begin planne maak om homself bo God in te werk. 

God het die duiwel uit die hemel geskop. Net daar het hy die opposisie geword en seker ’n pack met homself gemaak dat hy alles en almal wat in God se lig is, sal aanval en probeer om hulle van God af te rokkel. 

In die Nuwe Testament leer ons hom goed ken. Hy word die heerser oor die wêreld en die kragprins van die lug genoem. Hy is ’n aanklaer, meestal vals, en ’n bedrieër. Hy is die opponent en die teenstander. Hy is ’n kwaadprater en ‘n leuenaar. 

Een kompliment wat ons vir die ou kan gee, is dat daar geen lui haar op sy kop groei nie. Met alles in hom probeer hy ons weglok van God en sal nie gaan slaap voordat hy gewen het nie.  

Teen hierdie opponent moet ons ons staal. Ons moet hom ken, ons moet weet hoe hy doen en hoe sy planne is en dan moet ons ons daarop voorberei. Ons moenie aan die slaap gevang word nie.  

Ek like die ou niks nie, daarom oortree ek elke keer as ek sy naam skryf die spelreël om alle name met ’n hoofletter te skryf. Ek skryf sy naam, duiwel, met ’n kleinletter, want hy verdien nie eintlik ’n noemnaam nie. 

Maak seker dat jy nie in die kamp van die duiwel is nie, want 8wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. (1983-vertaling) 

Teks
1 Johannes 3:4-10 

Om oor na te dink
Ken jy jou opponent?
Waar val hy jou aan?
Watter planne moet jy in plek kry? 

Gebed
Vader, ek kan nie op my eie teen die opponent opstaan nie. Kom help U my, asseblief. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek