God se Woord in vandag se woorde

Ken jy vir Dawid of die Here


Iemand stuur vir my die storie: 

’n Beroemde akteur is eenkeer uitgenooi as eregas na ‘n dinee by ’n aftree-oord. Na die ete was daar verskillende lofbetuigings oor die akteur se roemryke loopbaan en ten slotte is hy gevra om iets voor te dra. Hy het gevra of daar ‘n spesiale versoek uit die gehoor is. 

Die mense was maar skaam en ook nie so bekend met sy repertoire nie. Toe staan ‘n ou dominee op.  

“Sal u nie vir ons Psalm 23 voordra nie?”  

Die akteur was effens uit die veld geslaan, want hy was eintlik bekend vir sy vertolking van Shakespeare. 

“Met plesier,” sê hy sjarmant. “Ek dink ek ken nog die woorde.”  

Toe hy met sy pragtige stem en suiwer intonasie begin voordra, het die gehoor aan sy lippe gehang. Nog nooit het die klanke van die bekende psalm so melodieus op hul ore geval nie. Toe hy klaar was, het spontane applous losgebars. 

“Baie dankie, baie dankie.”  

Die akteur was amper aangedaan deur die gehoor se waardering vir sy poging. Spontaan sê hy: “Maar nou wil ek graag ’n guns vra. Sal die persoon wat die Psalm versoek het, dit nie ook vir ons voordra nie?” 

“Ek?” vra die bejaarde Godsman verbaas. “Ek weet niks van die voordragkuns nie. En my stem is al taamlik treurig. Maar as u dit as ‘n guns vra, kan ek nie weier nie.”  

Die akteur beduie dat hy moet vorentoe kom, maar die ou man glimlag: “Toe maar, ek staan sommer hier by my sitplek.” Toe begin hy met sy ietwat krakerige stem voordra. 

Aan die einde van die Psalm was daar geen applous nie, maar die hele gehoor het met geboë hoofde gesit en geen oog was droog nie.  

“Sien julle die verskil?” vra die akteur, self bewoë. “Ek het julle oë en ore bereik, maar hierdie man het julle harte geraak. Want sien, ek ken Dawid se Psalm, maar hy ken die Herder … 

Sjoe, dis so aangrypend.  

25Julle was soos skape wat verdwaal het, maar nou het julle julle pad terug gekry tot by julle Skaapwagter. Hy sal julle goed oppas en mooi vir julle sorg. 

Dankie tog vir die Skaapwagter wat vir my wat afgedwaal het, kom haal het. Aan die kruis het Hy vir my betaal, nou kan ek vir ewig lewe.  

Die vraag wat ek vir myself moet vra: Ken ek die Psalm of ken ek die Herder aan die kruis ook persoonlik? 

Teks
1 Petrus 2:22-25 

Om oor na te dink
Ken jy die Psalm?
Ken jy die Herder?
Ken jy Jesus persoonlik? 

Gebed
Jesus, ek weet ek beur nog baie na die wêreld se kant toe, maar my hart behoort aan U. Ek smag na ’n persoonlike verhouding met U. Amen.

Jesus, persoonlike verhouding 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek