Kies my! Kies my!
Ek wonder of ons altyd besef hoe gelukkig ons is. Nee, gelukkig is te dun hier. Kom ons gee dit meer gewig. Ek weet nie of ons aldag besef hoeveel tonne en tonne genade oor ons uitgestort word nie. Die feit dat ons die voorreg het om te kan en te mag glo – dis ’n groot wonderwerk.
Dit kon soveel anders gewees het. Dink net hoeveel mense in die wêreld nie die kans kry om die keuse te maak nie. Dit is hartverskeurend. Ja, my hart gee sommer sulke krampe wanneer ek dink dat daar mense is wat nooit die kans sal kry om vir Jesus te kies nie. Bloot weens die feit dat hulle nooit die goeie nuus gehoor het nie. Dan is ek nog meer dankbaar vir die paar mense wat bereid is om alles net so te los en in die verre vreemde Jesus se Naam te gaan uitdra. Dankie tog vir hulle!
Ons ontvang soveel genade. Ons word oorlaai met die liefde van God. Ons het die verlossingsboodskap op al ons skerms, in die kerk, in ons vriendekringe, in ons gesinne en in ons harte.
Dit is egter nie bloot toevallig dat jy is waar jy is nie. Jy het nie oor een of ander stomp in die bos geval om by geloof in God uit te kom nie. Nee, jy is spesiaal. Soos die Engelsman sê: You are hand picked. Jy is uitgesoek tussen miljoene om deel te hê aan God se genade.
Dis wat Paulus ook sê: 13My liewe broers en susters, ek sê altyd vir God oor en oor dankie vir julle. Die Here het julle baie lief. En dis nie net lippetaal nie: God het julle al spesiaal uitgesoek om in Hom te glo.
Onthou jy vir Donkey wat in die film Shrek op-en-af gespring en geskree het: Pick me! Pick me! Wel, jy hoef dit nie te skree nie, want jy is reeds uitgekies. Die genade het jou reeds oorspoel en jy is spesiaal uitgekies om in God te glo.
Haai! Staan nou eers stil, sê dit hardop, laat dit deel word van jou wese: God het gedink ek is so spesiaal dat Hy my met die hand uitgekies het om in Hom te glo.
Wow! Die almagtige God het my met Sy hand uitgekies. Ja, ek weet dit voel nie altyd so nie en ek weet ons leef nie altyd so nie, maar miskien moet ons nou hierdie spesiale roeping wat God op ons geplaas het, deel maak van ons wese. Ons moet dit begin leef, want daar is ander ouens daar buite wat ook die roeping het, maar nie daarvan weet nie – en hoor nou mooi – omdat daar van ons is wat nie ons roeping uitleef nie.
Eina!
Dis jammer dat ons dit nie altyd besef nie. Ons dink dis ons wat vir God gekies het. Ons dink ons het saam met ons ouers in die kerk gekom of êrens by ’n kamp of byeenkoms ons harte vir die Here gegee.
Dit is ons wat die keuse maak vir of teen God – hierdie keuse moet die mens self maak. Tog is dit nie toevallig dat jy saam met jou ouers in die kerk grootgeword het nie. Dis nog minder toevallig dat jy juis by daardie kamp, geleentheid of byeenkoms was. Dit alles was deel van God se plan.
God werk met ’n plan. Hy het al voor jou geboorte Sy oog op jou gehad. Jy is spesiaal geroep om in Hom te glo, want dis wat Hy wou hê.
Gaan leef dit nou daar buite in die wêreld uit. Daar is soveel wat moet hoor en sien dat hulle ook gekies is om in God te glo. Dalk wag hulle net vir jou!
Gaan leef soos ’n spesiaal uitverkiesde kind van God en weet jy hoef nooit soos Donkey te skree: Kies my! Kies my! nie, want jou liefdevolle Vader het jou reeds gekies!
Teks
Dink bietjie hieroor
Glo jy dat God jou persoonlik uitgesoek het?
Leef jy dit?
Gebed
Vader, dankie dat U gekies het dat ek in U moet glo en dat ek U kind kan wees. Ek verdien dit nie, maar dis wat genade doen. Help my om deur my gehoorsaamheid U liefde te beantwoord. Amen.