Kinders van God doen dit anders
Soms het die duiwel ’n houvas op mense en dan is dit oorlog. Hannes (skuilnaam) vertel. Dié storie is nie vir sensitiewe lesers nie.
Ek en my vrou is al 22 jaar getroud. Ons het van dag een af probleme gehad. In ons agtste huweliksjaar wou sy my verlaat, omdat ek gevoelens vir ’n ander persoon ontwikkel het. Tog het ons besluit om weer te probeer.
In die twaalfde jaar van ons huwelik het sy ’n buite-egtelike verhouding met ’n kollega begin. Dit was ’n baie moeilike tyd, maar ek het tot God gebid vir ’n uitweg. Sy het uiteindelik die verhouding beëindig, en ons het weer aan ons huwelik begin werk.
’n Pragtige dogter, ons vierde kind, is daarna gebore. Maar toe ons dogtertjie net ’n jaar en ’n half oud was, het sy weer ’n verhouding begin. Dié keer met ’n getroude man.
Dit het tot ’n derde wêreldoorlog in ons huis gelei. Sy wou nie uit die huis trek nie, en ek kon nie my kinders net daar los nie. My werk het swaargekry onder die spanning, maar deur God se genade het Hy my op my werksplek geseën.
Sy het naweke weggegaan en vir die kinders gelieg oor waarheen sy gaan, maar eintlik was sy saam met hom. Dié verhouding het vier jaar lank geduur. Deur alles het die Here my en my kinders gedra.
Daar was ’n tyd dat ek ook besluit het: as sy aanhou, gaan ek ook. Ek het baie begin gesels met ’n ander vrou, maar God het daardie situasie gestop voordat dit te ver gegaan het.
Ons was gereeld in en uit die hof oor interdikte. Een aand het sy my, voor die kinders, aangerand. Ek was onder die bloed, en die polisie moes by ons huis ingryp.
Na jare van gebed het dinge begin verander. Ek het verander. Die Here het haar ook verander.
Ons is tans weer saam en probeer opnuut. Die Here het aan my vrou se hart gewerk en haar verander. Deur God se genade is dinge vandag ’n bietjie ligter, al bly dit moeilik. Maar niks is onmoontlik vir God nie. Baie kere sit ek en dink hoe die Here Jesus Christus my verander het – dat ek die haat wat in my was, kon omskep in liefde vir my vrou. Prys die Naam van die Here.
Sjoe, dis nie ligte musiek nie. Maar soos Hannes sê: Waar die Here betrokke is, loop dinge anders. Waar God werk, word mense omgedop. Hulle draai om en stap in die teenoorgestelde rigting, weg van die kwaad.
Kinders van God sukkel ook soms. Maar êrens langs die pad besef ons die foute wat ons maak. Dan vra ons verskoning, en ons het opregte berou. Môre probeer ons weer, en hopelik kan ons ook eendag ons eie storie skryf en sê: Met die genade van Bo het ons hierdeur gekom.
18Tog weet ons ook dat iemand wat God se kind is, nie heeltyd al agter die sonde aanloop nie. Die Bose kan nie ’n houvas op hom kry nie.
Dalk moet jy eers net weer êrens gaan stilsit en seker maak jy leef nog binne God se wil, en dat jy nie agter verkeerde dinge aanloop nie.
Teks
1 Johannes 5:14-21
Om oor na te dink
Is daar dalk iets wat ’n houvas op jou het?
Loop jy orals in die regte rigting?
Wat moet jy anders doen?
Gebed
Vader, ek vra vergifnis dat ek nie altyd volgens U wil leef nie. Ek wil so graag net doen wat U gelukkig maak. Help my asseblief om afstand te doen van alles wat nie in U wil pas nie. Amen.