God se Woord in vandag se woorde

Klim agter die gordyn uit


Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het die gordyn in die tempel van bo tot onder geskeur. Die Boodskap-vertaling sê dit so mooi: 20Ons het gesê dat daar tussen die twee kamers in die Heilige plek ’n gordyn gehang het. Jesus se liggaam kan met dié gordyn vergelyk word. Die gordyn van Jesus se liggaam is geskeur om so ’n nuwe pad na die lewe saam met God oop te maak.

Dink hoe groot die kerkgangers se monde moes oopgehang het, toe hulle vir die eerste keer sien wat agter die gordyn aangaan. Hulle kon seker nie hulle oë glo nie. Versigtig het hulle oor die hope materiaal getrap om ook daar te kon ingaan waar die hoëpriester slegs een keer per jaar kon in. En hier stap hulle nou. Hulle kan ook nou by God uitkom. Watter nuwe pad het die skeur van die gordyne nie vir hulle oopgemaak nie!

Dis vir ons moderne mense moeilik om ons in te dink wat deur daardie tyd se mense se koppe moes gaan. Maar die gebeurtenis was seker soos vir ’n blinde om te sien en ’n dowe om te hoor. Vir die heel eerste keer is die vêr God, nou hier naby. Vir eens en vir altyd is die kerk se fondasie so geskud. Dit sou nooit weer dieselfde wees nie.

Van daardie dag af, stap die mens op ’n nuwe pad. Die pad wat Jesus vir hulle kom oopsterf het. Net soos Sy liggaam geskeur en gebreek is, is die gordyn wat die mense weggesteek het, van God geskeur.

Nooit weer hoef die mens diere vir hulle sondes te offer nie. Nooit weer hoef die hoof van die kerk agter ’n gordyn in te gaan om met God te praat nie. Die gewone mense soos ek en jy, kan sommer nou self met God praat.

Dit is alles wat Jesus vir ons aan die kruis moontlik gemaak het.

Die vraag is egter of my lewe hierdie nuwe roete wat Jesus vir ons oopgesterf het, loop? Leef ek ’n lewe agter die gordyn wat ek eintlik wegsteek vir ander of leef ek ’n lewe waar ek vry is van my sondelas en waar ek nie bang is om in die wêreld daar buite my ware kleur te wys nie?

Lea vertel van haar baas wat deur die gordyn gebeur het:

Ek het na twee jaar vir hom begin bid, want ek was so bang om selfs net boodskappe aan hom oor te dra. Dit het ‘n tydjie geneem, maar hy het wel verander. Van ‘n bombastiese persoon, wat elke dag vloek en mense slegmaak, het hy mettertyd verander en met my begin gesels oor dieper dinge en hy het my toegelaat om ook dinge uit te lig waar hy verkeerd opgetree het. Die afgelope vier jaar het hy selfs begin kerk toe gaan …

As jy jou in Jesus vasloop, kom jy agter die gordyn uit. Dan lewe ’n mens anders. Dan kom ander agter dat jy anders is.

En jy? Lewe jy anders omdat jy agter die gordyn uitgeklim het?

Teks
Hebreërs 10:19-25

Om oor na te dink
Waar lewe jy?
Staan jy voor of agter die gordyn?
Hoe kan Jesus se skeur van die gordyn vir jou op ’n nuwe pad laat loop?

Gebed
Jesus, dankie dat U die gordyn geskeur het en ons nou direk by God kan uitkom.  Dankie dat ek nie meer agter die gordyn hoef te staan nie. Help my tog op die nuwe paaie, dat ek oral U naam sal uitleef. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek