Krag vir die monster
Daar was tye wanneer ek gevoel het ek is in te diep water. Tye wanneer ek gevoel het ek het nie meer ’n greintjie krag oor om te trap om my kop bo die water te hou nie. Tye wanneer ek gevoel het hoe die water tot by my neusgate kom.
Ek onthou nog die spanning wat my snags kom wakker klop het oor die geldsake by die besigheid of die nagte wat ek in my eie sweet rondgerol het oor die unie wat my die heeltyd uitdaag. Ja, daar was baie tye in my lewe wat ek heeltemal te swak gevoel het vir die uitdaging wat om die volgende draai in my pad vir my lê en wag het.
Dalk is jy nou daar en voel jy ook nie in staat om die uitdaging aan te vat nie.
Hierdie vers is dan spesiaal vir jou: 33… Hoewel sommige hopeloos en swak gelyk het, het God hulle sterk gemaak.
Hoeveel het Dawid se kniekoppe nie teen mekaar geraas, toe hy die groot reus voor hom sien nie? Ja, hy was braaf, want hy het al ’n leeu met sy eie hande doodgemaak, maar toe was dit anders. Dit was net hy en die leeu, met geen toeskouers nie.
Hier staan hierdie grote man voor hom. Duisende soldate staan en hou sy elke tree dop. Sê nou maar net hy skiet skoon skeef met sy kettie. Dit gaan nie net oor die verleentheid en dat hy vir die res van sy lewe gebrandmerk gaan word as ou grootbek en skeefskiet nie, maar hoeveel van sy eie mense sal dan doodgemaak word?
En tog gaan Dawid voort. Tog sien hy kans, want hy glo. Hy het ’n dik stroom geloof in God, wie hy weet hom deur hierdie uitdaging sal help.
Hy glo wel in sy eie vermoë. Hy weet hy kan ’n kettie skiet. Hy weet hy kan reguit skiet. Dit is egter nie genoeg nie. Hy het God nodig om die krag agter die klippie te sit. En dit is waarin hy glo. Hy glo in God se krag. Hy glo dat God vir hom sal voorsien. Hy glo dat God sy daad nog sterker sal maak en die onmoontlike moontlik sal maak.
En dit was toe so en doef!, daar slaan die reus neer!
Elke keer as daar in my tyd as plaasbestuurder of by my besigheid ’n reus voor my gestaan het, het my broek ook erg gebewe, want ek het duidelik besef dat ek te klein is en my kragte te min. As ek egter nou terugkyk na elke uitdaging, sien ek dat ons dit oorwin het. Ek sê ons, want God het tot die stryd getree en my sterk gemaak.
Die boodskap is spesiaal vir jou ook vandag. Jy is dalk heeltemal reg dat jy te swak is om die uitdaging in jou pad aan te vat. God kom belowe egter dat soos Hy vir Dawid gehelp het en sterk gemaak het om Goliat te oorwin, so sal Hy ook vir jou sterk maak. Hy sal vir jou krag gee om die monster wat voor jou staan, te oorwin.
Onthou, doen jy die moontlike en God sal jou help om die onmoontlike moontlik te maak.
Teks
Hebreërs 11:32-40
Om oor na te dink
Hoe lyk jou monster?
Voel jy swak?
Glo jy dat God jou krag kan gee om die monster te oorwin?
Gebed
Vader, ek voel te swak vir die uitdaging hier voor my in die pad. Dit voel of die monster net te groot is en my sal oorwin. Dankie vir die belofte dat U vir my krag sal gee. Gee dit nou asseblief. In Jesus se Naam, amen.