Krakie in die geloof
Ons een tjommie wat van ons laerskooldae af met ons saamkom, laat weet op ons WhatsApp-groepie dat die kliere onder sy kakebeen geswel is en hy dokter toe moet gaan. Hulle doen toetse. Dit lyk nie so goed nie.
Die uitslae kom eers later en die wag maak hom op. Om so te wag vir ’n tyding, jaag jou teen die mure uit. Wat sal die uitslag wees? Wat sal ek doen as die uitslag slegte nuus is? Ek weet nie of ek al reg is om uit die lewe te stap nie …
Die nuus is toe nie so goed nie en na hulle een van die kliere uitgesny het vir ’n biopsie, bel die dokter met die nuus: Hy het kanker …
Ewe skielik flip sy hele wêreld om. Ewe skielik word hy gekonfronteer met vrae wat hy nie eintlik geweet het bestaan nie, wat nog te sê van antwoorde in die stoor hê. Ewe skielik sit hy met ’n warboel en hy weet nie hoe verder nie. Ewe skielik staan die drie vrouens in sy lewe met trane wat stroom en hy weet nie wat om te sê of te doen nie.
Êrens in ’n mens se lewe kom jy by so ’n kruispad. Dis ‘n donker kruispad en jy wonder hoe vorentoe. Waaraan kan ek vashou? Wie sal my help om hierdeur te kom?
Ons ander vier tjommies probeer op ons krom manier ondersteun.
Ek lees die teks raak: 35Moet dus nie toelaat dat daar ’n krakie in julle vertroue op God kom nie. Wie op God bly vertrou, sal ’n groot beloning by Hom kry.
Ek stuur dit vir my tjommie en sê vir hom dat dit al is waaraan ons kan vashou. Ons kan net op God vertrou, want net by Hom is ons veilig. Net by Hom is ons antwoorde. Net Hy weet presies wat om die volgende draai op ons wag. Eintlik is ons hele wese en toekoms in Sy hande. En watter beter hande is dit nie om in te wees nie!
Ons moet nie toelaat dat ons vertroue in God ’n krakie inkry nie. Dis dalk maklik gesê, maar ons moet ons bes probeer om ons vertroue en geloof in God in een stuk te hou en te bewaar.
’n Vriendin van my bel my. Haar salaris is gesny. Die lyk nie baie rooskleurig in die organisasie nie. Daar is sprake van nog ’n sny. Die onsekerheid of sy nog oor ‘n paar maande ’n werk gaan hê, vreet haar op.
Ek onthou die vers en stuur dit ook vir haar en skryf ook vir haar dat ons nie moet toelaat dat ons geloof êrens aan die kraak moet raak nie. Op die ou end sê mense baie. Hulle probeer hulle bes, maar die antwoorde en die rustigheid is by God te vind.
Van hierdie ene moet ons ’n nota maak in ons gedagtes, want dalk het ons dit net om die volgende draai so nodig …
Teks
Hebreërs 10:31-39
Om oor na te dink
Hoe lyk jou vertroue in God?
Waar het God al voorheen in jou behoeftes voorsien?
In watter area van jou lewe moet jy nou op God vertrou?
Gebed
O God, my Vader, wat ookal oor my pad kom, weet ek dat U my nooit alleen sal los nie. U is lief vir my en sal vir my presies gee wat ek nodig het en wanneer ek dit nodig het om U wil vir my te vervul. Selfs al gaan ek deur donker dieptes, in U hande is ek veilig. Amen.