God se Woord in vandag se woorde

Krieketbal op die nuwe Renault se bonnet


Na die afgelope paar kere se vergifnis, kan ek nie anders as om die mooi storie van Johan uit te stuur nie. Dis kostelik, maar tog ’n les vir ons almal…

 Jip, dit is ’n lekkerte as jy om verskoning vra en daar word aanvaar, maar dit is ook lekker om ander te kan vergewe.

Ek het vir 18 jaar ’n ou blou groen Opeltjie werk toe en terug gery. Sy kostes van breek was later astronomies hoog. Die Opeltjie het sommer vanself om ’n 90 grade draai gekom, jy moes net die stuurwiel los. Sy heater het nie gewerk nie. In die winter oggende, teen 90km/h was jou kopbeen en breinboks ’n ysblok as jy by die werk aankom. In die somer was daai karretjie erger as ’n gasstoof, want sy ruite was outomaties – as jy draai het die ruit vanself in die deur ingeval.

Die karretjie het die kinders deur die skool gesit, deur universiteit en my finansieël uit die tronk gehou. Maar die vol toolbox moes orals saam rondry.

My vrou sien eendag op pad dorp toe ’n advertensie agter op n motor geplak “Drive new, only R999/m.” Daar word gebel, ge-sms en gereël. Maandagmôre op kantoor bel een van daai dames wat Engels in ’n Asiatiese aksent praat teen 250 woorde per minuut en beduie van verskillende motors wat beskikbaar is, na 15 minute besef ek die vrou koop vir my ’n nuwe motor, al wat ek wou hê op die ou end was die een wat die minste jare en kilometers gedoen het.

Sien, my Opeltjie was al ver oor die 300 000 km en het al verby die Maan gery.

Woensdag staan ’n blink nuwe Renault, aircon, min kilometers, electric vensters en ’n manual so dik soos my groot letter Bybel by die huis en wag. Donderdag en Vrydag ry ek mooi werk toe. Saterdag kom die seun van Pretoria en stel vir sy pa die radio en wys my hoe werk die spoedkontrole en al daai moeilike goed.

Sondag kerk toe en terug en ek parkeer my blink nuwe motor in die werf net langs die muur. Ek het skaars behaaglik my sit gekry, of die vrou roep: “Jou dominee wil met jou gesels.”

Ek staan met ’n frons op, en stap uit. Die hek gaan oop en hier kom Edward, (naam verander) ons pas aangestelde, jong gekwalifiseerde dominee, ingestap.

”Sorry oom” groet hy, terwyl die vrou verby stap na my blink nuwe Renault. Ek sien dadelik die rooi kol voor op die bonnet, en ek weet: Krieket bal!!!

Edward is genooi vir ete by die bure, en het met die seuns krieket gespeel. Die bal is oor die muur en daar lê die bewys op my blink nuwe Renault se bonnet.

“Sorry Oom,” hoor ek ver weg, “ek sal alles regmaak, Oom.”

Ek dink en dink.

Edward hardloop gou bure toe, kry ’n lap en vee skoon: “Daar’s hy, Oom. Reg, Oom”.

Die duik is duidelik vir my: “Edward, vryf en voel!” sê ek baie hard.

My vrou hou my vas. Sy ken my.

Edward vryf en voel die duik: “Sorry Oom. Sal regmaak, Oom”.

Ek draai om en stap weg. Voor die ouderling die dominee klap.

Maandag by die paneel kloppers is die kwotasie ’n enorme prys. Ek weet Edward verdien ’n klein salaris – klein gemeenskap. Moet die kerkraad betaal of moet ek die skade betaal?

Daar is lank gedink.

Vandag ry ek met trots rond met die duik op my Renault – dit was lekker om te kan vergewe en te kan vergeet.

Mag ons almal eendag terugkyk en ook lekker kry oor die tye wat ons vergewe het.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek