Kyk met sagte oë na jouself en loop net agter Jesus aan
In die besigheidswêreld het ons altyd probeer om waarde tot ons werkerskorps te voeg. Ons het selfs ’n sielkundige aangestel om weekliks met die mense te woel.
Soms het hy een of ander toets laat invul om te kyk na elkeen se persoonlikheid om te bepaal of elkeen in die regte posisie aangestel is. Dit was insiggewend om te sien hoe elkeen groter hoogtes bereik wanneer die persoon na ’n pos geskuif word wat hul persoonlikheid pas.
Van die toetse was selfevaluering. Jy moes ’n punt uit 10 gee vir hoe jy jouself sien in jou doen en late in die besigheid. Op daardie stadium was ek aan die hoof van die besigheid en ek moet sê, ek het myself nie ’n goeie punt gegee nie.
Ek het later lank met die beroepsielkundige oor hierdie negatiewe evaluering van myself gepraat. Ek het eers later besef dat hierdie ongebalanseerde negatiewe evaluering van myself, negatief inwerk op my input in die besigheid.
’n Mens is wat hy van homself dink. Die mens se denke van homself bepaal sy werksvermoë. Hoe die mens oor homself dink, het ’n direkte inpak in sy emosionele toestand.
Dit het my oë groot oopgemaak en ek het besef ek is te hard op myself en dat ek met sagte oë na myself behoort te kyk.
Ook in ons geestelike lewe. Hoeveel keer wanneer ons die Woord van God hoor, voel dit asof ons aangekla word en dat ons dit nie eintlik maak nie. Ons is eenvoudig net te sondig en doen te veel verkeerde dinge om dit eendag tot in die poorte te maak.
29Julle weet mos dat Jesus se verhouding met God in elke opsig foutloos is. In alles wat Hy doen, tree Hy reg op. Dít is vir julle die toets: elkeen wat so volgens God se wil reg optree, is ’n ware kind van God.
Verstaan jy waarom ek na die hoor van so ’n teks, nie so goed oor myself voel nie? Ek weet Jesus is perfek. Daar is geen verkeerd in Hom nie. Hy het presies God se wil tree vir tree hier op die aarde uitgeleef.
As ek dan ’n selfevaluasie moet doen oor hoe goed ek in Jesus se treë hier op aarde stap, sien ek die menigte male wat ek keer op keer uit die paadjie gestrompel het.
Dan voel ek nie goed daaroor nie. Dan geen ek gou ’n nul uit tien en my selfbeeld as kind van God is tussen die vloer en die politoer.
Dit het ’n negatiewe invloed op my doen en late. Ek voel nie goed genoeg nie en kasty myself. Ek trek selfs ’n negatiewe kombers oor myself en wil dan net in die bed lê. Ek wonder of jy ook soms so voel?
Tog is dit so onnodig om hierdie handrem oor ons lewe op te trek. Ons moet onthou dat ons nog ‘n work in progress is. Ons moet vir onsself ruimte gee om soms verkeerde afdraaie te vat.
Laat ons eerder hierdie negatiewe energie omdraai in positiewe energie en elke keer terugkeer as ons verkeerde afdraai geneem het en dan weer probeer om soos Jesus in die wêreld te lewe. Ons sal later meer loop as val.
Teks
1 Johannes 2:24-29
Om oor na te dink
Hoe voel jy oor jou pad se stap as Christen?
Waar neem jy nog verkeerde afdraaie?
Waar moet jy meer soos Jesus loop?
Gebed
Vader, ek weet ek voel soms nie goed oor my manier van lewe nie. Help my om meer soos Jesus te lewe. Amen.