God se Woord in vandag se woorde

Laaste en finale offer


(Lees Hebreërs 7:1-25, verkieslik in Die Boodskap, om ’n goeie idee te kry van die priesters in die Ou Testament.)

Die priesters in die Ou Testament het basies twee funksies gehad. Die eerste was om middelman of mediator te wees tussen God en die volk. Die priester het met God gepraat en dan die boodskap aan die mense oorgedra. Hy was dus God se verteenwoordiger op aarde.

Die tweede, baie belangrike rol, wat die priester gespeel het, was om offerande namens die mense aan God te bring. Die priester verteenwoordig weer die volk by God. Die mense het gesondig en daarvoor moes hulle sterf – dit was die loon van die sonde. Maar in plaas daarvan dat hulle sterf, is ’n dier doodgemaak. God het dan die offerande aanvaar.

Die priester was self sondig en die offers was net tydelik. Daarom moes die priesters gedurig offers tot God bring. Dit was nie ’n volhoubare oplossing nie. 18Die ou reëls van Aäron-hulle werk nie meer nie, omdat dit nie regtig mense kon help soos dit moes nie. 19Deur daardie wet kon die mense se saak by God nie regtig reggemaak word nie.

Dit het eenvoudig net nie gewerk nie. Baie mense het die pad na die hemel byster geraak, want die oplossing was nie waterdig nie. Daarom het God ’n nuwe plan gemaak. 19… Maar nou is daar ’n ander manier: Jesus! En dit werk, want so kom ons baie naby aan God.

’n Priester sonder sonde moes offers bring vir die sondes wat die mens so op hope versamel het. Die offer wat Hy moes bring? Hy moes aan ’n houtkruis kom sterf. Hy moes in die plek van ‘n os of ’n skaap of ’n bok Sy eie lewe kom opgee, sodat die mens se sondes vir altyd vergewe sou word.

Hierdie was nie ’n tydelike oplossing wat weer en weer hoef plaas te vind nie. Nee, hierdie is ’n permanente, laaste, finale oplossing vir die groot probleem van die mens se sonde.

Jesus is as die laaste priester aangestel om vir die laaste keer mediator te speel tussen God en die mens. Hy het Sy taak 100% suksesvol afgelê. Hy het presies vir ons kom wys wie God is en wat God van ons verwag. Maar meer nog, Hy het Sy tweede opdrag suksesvol uitgevoer, deur Homself vir ons sonde te offer.

Die resultaat is soveel anders as die ou priesters se pogings: 22Daarom kan Jesus ons waarborg dat daar nou ’n baie beter ooreenkoms tussen ons en God is. Ek en jy kan nou deur Jesus by God uitkom.

God is nie meer hierdie onaantasbare God vir wie ons bang moet wees nie. Nee, omdat die skuld van ons sondes deur Jesus se offer betaal is, staan die deur na God toe nou oop.

Daar waar ek en jy in die lewe swoeg en nie weet watter kant toe nie. Daar waar ons met sulke vrae sit en wonder hoe ons aan die einde van die maand gaan deurkom. Daar waar ons oor ons gesondheid besorg is en oor ons kinders wroeg, daar kan ons elke keer na God toe draai en direk met Hom praat.

Jesus, die Hoëpriester, het met Sy offer, dit moontlik kom maak. Laat ons dan so lewe. Lewe soos verloste mense. Lewe soos ware kinders van God wat vrygekoop is deur die laaste en finale offer.

Teks
Hebreërs 7:1-25

Om oor na te dink
Hoe verstaan jy Jesus se rol as Hoëpriester?
Wat beteken Jesus se laaste offer vir jou?
Hoe verander dit jou manier van lewe?

Gebed
Vader God en Jesus Christus, hoe sê ’n mens dankie vir die finale offer? Hoe groot is dit nie van Jesus nie om Sy lewe op te offer vir die straf van my sonde, sodat my verhouding met God herstel is? Hoe sê ’n mens dankie, want dankie is nou vêr te klein. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek