Leef die ewige lewe
Ons praat min oor die ewige lewe. Dit is asof dit ’n pie in the sky is. Iets wat ver in die toekoms lê en buite ons bereik is. Maar eintlik kan die wete van die ewige lewe ons nou al help om deur moeilike tye te beur.
Gewoonlik, voordat ’n mens met vakansie gaan, is die druk hoog. Jy moet al jou werk afhandel, ander moet ingelig wees om jou take oor te neem en daar mag geen verrassings wees nie.
Tog help die wete dat die vakansie op pad is dat jy hard werk en groot irritasies deurstaan. Dis asof die komende vakansie jou deur hierdie laaste stretch sleep. Dis amper soos ’n tou wat jou in ‘n beter wêreld intrek.
Net so is die ewige lewe iets wat vir elkeen wag wat in Jesus glo. Dit is iets waarna ons kan uitsien en iets wat jou kan help dra aan die swaar dinge wat jy hier op aarde aantref, omdat jy weet wat op pad is.
Die ewige lewe is ‘n lewe van heerlikheid en geluk wat wag in die hiernamaals. Ons kan dit op die stadium nog nie sien nie, maar ons weet daarvan, omdat Jesus vir ons daarvan vertel.
Dit is ’n lewe waar die sluier wat oor al die geheimenisse getrek is, verwyder sal word en ons alles sal kan verstaan. ‘n Lewe sonder hartseer en sonder gebrek. ’n Lewe vol vreugde en die lekkerste hiervan is dat dit nooit sal ophou nie.
Die ewige lewe is ‘n gratis geskenk van God die Vader. Sy genade hou nooit op nie en Hy wil net goed doen aan Sy kinders. God het reeds ons plek voorberei sodat ons vir ewig saam met Hom kan lewe.
11… God bied die ewige lewe vir ons aan. Hierdie lewe is in en by sy Seun beskikbaar. 12Wie dus in ’n hegte verhouding met die Seun staan, kry die lewe by die Seun. Wie nie in so ’n verhouding met die Seun van God staan nie, loop die lewe heeltemal mis.
Jesus gee vir ons hierdie geskenk van die ewige lewe. En onthou: die ewige lewe begin nie eers die dag as ons die aardse lewe verlaat nie. Dit het reeds begin.
Die wete dat ’n splinternuwe lewe in die paradys vir ons voorlê, maak die swaar tye hier op aarde meer hanteerbaar. Soos ’n vakansie wat voorlê, net beter, want ons hoef nooit weer terug te kom na die gebroke wêreld nie.
Dit is jammer dat soveel mense op hierdie lewe gaan uitmis. Dis eintlik baie eenvoudig: as jy nie in ’n verhouding met Jesus staan nie, het jy nie deel aan hierdie besondere lewe wat op pad is nie.
Sjoe, baie mense wat elke dag met ons skouers skuur in hierdie lewe, se lewe eindig met ’n stopbordjie. Geliefdes van ons besef dit nie. Ek wonder of ons nie meer moeite moet doen om ook vir hulle hiervan te vertel nie, sodat ons eendag saam daar van geluk kan oorloop?
Teks
1 Johannes 5:7-21
Om oor na te dink
Wat beteken die wete aan die ewige lewe vir jou?
Hoe help dit met jou lewe nou?
Wie lê die Here op jou hart om hiervan te vertel?
Gebed
Vader, dankie vir die groot geskenk. Dit maak my opgewonde en help my om vandag anders te leef. Help my om dit ook met ander te deel. Amen.