Leef liefde – dis al
Ek wonder, as ek almal vra om die volgende vraag te antwoord, watter woord sal wen: As jy Christenskap in een woord moet opsom, wat sal dit wees? Ek vermoed liefde sal boaan die lys wees.
Alles wat ons as kinders van God doen, moet gebou wees op die fondament van liefde. Of ons nou praat of doen, liefde moet altyd daaruit vloei. Wanneer mense met ons in aanraking kom, moet hulle oorrompel word deur die liefde.
Hierdie liefde is slegs moontlik as ons toelaat dat God se liefde ons oorrompel. God is liefde. Jesus is liefde. Die Heilige Gees is liefde. En hierdie liefde sien en ervaar ons juis daar aan die kruis op Golgota.
God het die mens só ontsettend lief gehad dat Hy ’n plan moes maak om te keer dat mense nié by Hom uitkom nie. Die plan was dat Jesus in die plek van die mense hul straf moes dra. Selfopofferende liefde is die hoogste daad van ware liefde.
Wanneer ’n mens dit dan besef, en toelaat dat jy oorrompel word deur God se liefde vir jou, dan wil jy in dankbaarheid doen soos Hy gedoen het, en dan ook liefhê. Selfopofferende liefde.
Net jammer dat ons dit baie keer nie regkry nie. Om een of ander rede gryp ons, wanneer dit moeilik gaan, terug na ’n liefdelose liefde, en dan moet veral die mense naaste aan ons dit ontgeld.
Ronelle probeer in haar eie lewe antwoorde kry oor die gesukkel met die liefde:
Liefde is voorwaar nie maklik nie, maar ek het bewus geraak van hoe jaloesie en selfgerigtheid hand-aan-hand loop met liefdeloosheid. Dit is die duwweltjies in mense (ook in my!) se lewens wat maak dat ons nie God se groot liefdesgebod teenoor ons naaste ten volle kan uitleef nie.
Hierdie liefdeloosheid waarvan ek praat, gaan oor daardie groot liefde. Die soort waar ek in staat moet wees om oor die doringdraad van woede en onvergewensgesindheid te klim. Dit kos kruip, huil, aanspreek en bid om die moed van ons oortuiging te hê om dit te erken en te oorwin.
Dis die eie ek wat ’n streep trek deur liefde. Dis ons eie begeertes, en deur net te wil hê, mis ons die bus van liefde. Ons self staan in die pad, en met ’n tikkie jaloesie nog by, is dit ’n woestyn sonder enige water van liefde. Hier gaan mens dood.
Daarom moet ons elke dag eers onsself op die agtergrond skuif. Ons moet dit bewustelik doen, sommer wanneer ons nog in die bed lê, vir die Vader sê dat ons nie voor in die koor wil wees nie, maar agter Hom wil aanstap, in liefde.
Laat ons Johannes se woorde ernstig opneem: 5Liewe vrou, ons moet mekaar liefhê! Ek vra mooi. Ek vra nie nou iets wat ek nie voorheen van julle gevra het nie. Dit is die ou opdrag wat ons nog altyd het.
6Liefde is mos niks anders as om volgens die wil van God te leef nie. En wat wil God dan van ons hê? Dít: wat ons doen, moet ons in liefde doen. Ons weet dit al van die eerste dag af dat ons die evangelie gehoor het.
As ons dit regkry, sal die wêreld anders lyk.
Om oor na te dink
Leef jy liefde orals?
Waar kort daar nog werk?
Hoe kan jy dit regstel?
Gebed
Vader, dankie vir U oorlopende liefde. Help my om dit uit te leef aan almal met wie ek vandag in aanraking kom. Amen.