God se Woord in vandag se woorde

Leef liefde ook vir die antichris


Baie van ons het grootgeword in gemeenskappe waar die meeste mense hulself as gelowiges beskou het. Mense het nie noodwendig met hulle geloof op hulle mou rondgeloop nie, maar min het openlik teen Jesus standpunt ingeneem. 

Selfs mense wat nié geglo nie, het hulle hul eie gang gegaan en gesorg dat daar nie veel branders gemaak word nie.  

Ek weet daar is sommige wat wel uit ’n omgewing kom waar daar geen ruimte was vir geloof in Jesus nie. Ek haal my hoed af vir mense wat ten spyte van teenstand, steeds gekies het om Jesus as hul Verlosser te volg. 

Ek onthou steeds die dag toe iemand my geloof bespot het. Wel, eintlik onthou ek die gesnork en toe die verontwaardigde laggie. Dit sny elke keer weer deur my. 

Dit is die gees van die antichris. Die houding wat doelbewus téén Jesus kies. Dié wat ontken dat Jesus na die aarde gekom het om vir ons sondes aan die kruis te sterf. Dié wat weier om die Heilige Gees in hulle lewens toe te laat. 

Hoe meer die moderne wêreld sy kop uitsteek, hoe meer is daar ruimte vir enige iets. Soos die Engelsman sê: “Everything goes!” Dis juis in só ‘n wêreld waar die teenwoordigheid van die antichris al hoe duideliker word. 

Wel, eintlik is dit al van die Bybelse tyd so: 3Daarteenoor het enigiemand wat Jesus nie erken vir wie Hy is nie, nie die Gees wat van God af kom nie. Die gees van die antichris is met hom besig. Julle het mos gehoor dat hierdie gees aan die kom is. Wel, dit is nou hier! 

Maak dit jou nie ook hartseer nie? Kry jy ook die mense jammer wat doelbewus kies om die boot te mis? Ai, ek wil eintlik in trane uitbars en vir die mense aan hul skouers ruk en sê: “Word wakker! Julle is op pad na ‘n ewige dood!” 

Maar dit is asof jy met die mense praat en jy kan in hulle oë sien, daar is niemand tuis nie. Dis asof die taal wat ons praat vir hulle geheel en al onverstaanbaar is. 

Ek dink dis net hier waar ons begin verstaan wat om te doen met dié wat ons geloof bespot. Ons moenie met hulle argumenteer nie, want hulle kan of wil nie luister nie.  

Wat ons wél moet doen, is eenvoudig: wys. Wys vir hulle Jesus, nie net met woorde nie, maar met dade. Dis nie iets nuuts nie, maar ons moet dit ernstig opneem. Laat ons ons geloof uitleef — met liefde, met sagtheid — selfs teenoor dié wat teen ons staan. Want dié liefde kom nie van onsself nie, dit kom van Jesus. 

Die persoon wat so gesnork het met die verontwaardigde laggie, het vir ’n paar dae by ons gekuier. Ons het net liefde geleef en niks gepraat oor ons geloof nie. 

Dit was sy wat in ’n stadium iets gevra het oor ons geloof en so die deur van haar hart oopgestoot het vir ons om ’n saadjie te plant. Ons bid hard dat die Heilige Gees dit sal laat ontkiem. 

Teks
1 Johannes 4:1-7 

Om oor na te dink
Het jy al ooit stilgebly oor jou geloof uit vrees vir verwerping of bespotting?
In watter mate laat jy toe dat die “Everything goes” kultuur jou geloof beïnvloed?
Hoe kan jy meer liefdevol optree teenoor mense wat nog nie vir Jesus gekies het nie? 

Gebed
God, dankie dat U my gekies het om deel te wees van U span. Ek wil graag vir dié wat nie glo nie, ’n voorbeeld wees. Help my om U liefde na ander deur my dade te weerkaats. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek