Leef saam met God
Ek kry ‘n lekkerlees e-pos van Annamare uit Limassol. Ek moet eers gaan Google waar dit is en sien dit is daar in die Middellandse See op die eiland, Ciprus. Sy vertel ’n mooi storie van haar ouers:
So ‘n rukkie terug het ek by die Here geleer om stadig te wees om te oordeel, want net God ken die hart van elke mens. Glo my, dit kom nie van nature nie en ek moet myself telkens aanspreek.
Gee mense die voordeel van die twyfel, sou my pa altyd gesê het. My pa het elke nou en dan iemand van die straat af in ons huis ingebring en ’n warm ete gegee. Dan is hulle daar weg met ’n tas of ’n sak vol klere, wat net my ouers geweet waar dit vandaan kom. Ons het dit self nie breed gehad nie – gelukkig het ek ’n ma wat niks weggooi nie en om een of ander rede het ons altyd klere van ander mense ontvang.
Een ding wat ek onthou, is dat elkeen ’n Bybel gegee is en my Pa het vir hulle van die Here vertel en saam met hulle gebid.
Vandag kyk ek terug en ek sê dankie. Elkeen se stoei in die lewe is anders.
Mag ons altyd biddend bly, want so kry ons antwoorde. Mag ek altyd sag, vriendelik en hulpvaardig bly, al is ek vrek moeg of in pyn. Môre is dit my beurt en iemand steek sy hand na my uit. Dan sien ek Jesus en is ek dankbaar, want iemand gee om.
Annemare se ouers se nalatenskap lê diep. Hulle het gesaai en die saad het mooi opgekom. Hulle het geglo dat Jesus die antwoord is en dat Hy ook vir hulle aan die kruis gesterf het. Daarom, uit dankbaarheid, het hulle uitgedeel aan die mense om hulle, al het hulle self dit nie te breed gehad nie.
Nou leef hulle dogter ook so. En al gaan dit ook rof en bots sy met die mense om haar, gee sy ’n stukkie van die binnevet van die boud. Soos wat Jesus vir ons sommerso vergifnis uitdeel, so deel hulle almal van die genade uit.
Dis mense wat saam met God leef. Dis mense wie se saak met God reg is. Dis mense wat op God vertrou.
38Die persoon wie se saak met My reg is omdat hy op My vertrou, sal saam met My leef. Maar as iemand se moed hom begewe en hy nie meer vir alles kans sien nie, moet hy nie verwag dat Ek met hom tevrede sal wees nie.
Ons moet Annemare en haar ouers se voorbeeld volg en op God bly vertrou. Ons moet sekermaak dat ons saak met God reg is, want dan sal ons saam met God leef.
En as jy dit nie doen nie, sê die teks, sal God nie met jou tevrede wees nie. Die oorspronklike vertaling stel dit ’n bietjie erger: “sal God se siel geen vreugde in jou vind nie”.
En daai wil ek nogal nie aan God doen nie …
Teks
Hebreërs 10:31-39
Om oor na te dink
Hoe dik loop jou vertroue?
Leef jy saam met God?
Leef God saam met jou?
Gebed
Vader, God, ek wil in U glo met alles in my. Ek vertrou U. U is die antwoord. Ek wil graag saam met U leef, al draai ek soms in verkeerde paadjies af. Amen.