God se Woord in vandag se woorde

Leef soos ’n koning


Jesus het baie vir ons kom doen. Toe Hy aan die kruis gesterf het, het Hy vir óns sondes gesterf. Hy was die offerlam wat “geslag” moes word, sodat Sy bloed kon vloei ter betaling van die sondes wat ons aanvang. In die verlede, in die hede en selfs in die toekoms, sodat ons self nie daarvoor pa hoef te staan nie.

Ek vermoed ons besef nie altyd presies hoe groot hierdie verlossingsdaad van Jesus is nie.

Tog bly die impak van hierdie wonderdaad van Jesus nie net by die verlossing van sondes nie. Ons word as gevolg hiervan ingelyf in ’n nuwe groep. Ons word deel van die koninklike priesterdom.

Nou wat beteken dit? Ons verstaan die woord “koninklike” as ons iets weet van die Britse koninklikes. William en Harry is die twee seuns van Charles en Diana. Hulle is prinse en daarom het hulle sekere voordele. Maar hulle het ook sekere rolle om in die koningshuis te verrig en ja, as hulle so bietjie oor die grense val, is die wêreld se tydskrifte vol daarvan.

Mense verwag dat hulle sal optree soos koninklikes. Hulle moet voor stap, sodat die res van die volk kan volg. Toe hulle binne die koninklike familie gebore is, het hierdie pakkie verantwoordelikheid outomaties saamgekom.

Toe ons Jesus as ons Verlosser aangeneem het, het ons ook deel geraak van ’n koninklike familie. Ons is God, die Koning van die wêreld, se familie. Ons ontvang daarmee saam ook baie voordele, soos om vir altyd te lewe.

Saam met die pakkie kom daar ook baie verantwoordelikhede waarvan die mees belangrikste is dat ons soos koninklikes sal leef. Ons moet soos prinse en prinsesse, kinders van die Almagtige God, leef.

Ons moet soos koninklike priesters leef. In die Ou Testament was die priesters deur God uitverkies met een doel: Om Sy verteenwoordiger, Sy segsman te wees. Die priester se werk was om God met alles te dien.

Hulle het die offers wat die volk gebring het, aan God geoffer. Hulle het die mense geleer van God en hulle gewys om binne die wil van God te lewe. Hulle moes die volk van God seën, maar ook opstaan en die mense wys wanneer hulle op die verkeerde pad is.

Dis eenvoudig. Dis nou maklik om te verstaan wie ons is. Ons is koninklikes, omdat ons in God, die Koning, se familie ingebore is. Ons ontvang outomaties die status van prins of prinses en daarom moet ons dienooreenkomstig optree. Dis ononderhandelbaar.

Ons moet die rolle vervul van die priesters van ouds. Ons moet God dien. Ja, ons werk dalk nie almal in ’n tempel of ’n kerk nie, maar daar waar ons werk, lewe en speel moet ons God dien.

Ons moet mense vertel van ons Vader en ons broer, Jesus. Ons lewe moet ’n lewende offer wees, maar dis nie so maklik om self ’n offerlam te wees en alles vir God te gee nie. Tog moet ons probeer om elke geleentheid te gebruik waar ons kan om ander kan seën, en ook soms die regte pad aan te wys wanneer hulle verdwaal.

Ons is koninklike priesters. Kom ons trek die pakkie aan en gaan leef dan so.

Teks
1 Petrus 2:9-12

Om oor na te dink
Wat beteken jou status as koninklike?
Wat beteken jou status as priester?
Hoe kan jy dit vandag gaan uitleef?

Gebed
Vader, hierdie nuwe status is amper te veel vir my. Ek kan dit dalk nog glo, maar die uitleef daarvan is nie altyd so maklik nie. Help my asseblief om my rol met verantwoordelikheid te vul. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek