God se Woord in vandag se woorde

Leer deur lewe vir kinders om te gee


Dis Vrydagaand en ons drie vriende staan by die vuur, reg om ’n lekker skaaptjoppie te braai. Ons vertel van ons week se doen en late.

Tjommie een vertel van die kursus vir besigheidsmanne by die kerk en die storie van suksesvolle besigheidsman, Don Camion. Don het saam met sy ouers in Nigerië grootgeword, waar sy dokter-pa en verpleegster-moeder die roeping gehad het om ’n verskil in die rowwe Afrika te gaan maak.

Don het later teruggegaan na Amerika, waar hy ’n baie suksesvolle vliegtuigbesigheid staangemaak het. Toe hy net na die eeuwisseling weer by die hospitaal wat sy pa en ma gebou het, ’n draai gooi, ruk die vervalle hospitaal sy hart. Sy roeping spring in werking en vandag staan daar ’n splinternuwe hospitaal wat lewens red, nie net fisies nie, maar ook geestelik. (https://egbehospital.org/wp-content/flip-book/2015/november/brochure/#p=3)

My tjommie maak die opmerking van hoeveel kinders deur hulle ouers beïnvloed word en later net soos hulle doen. Wanneer ouers hierdie vers deel maak van hulself en hulle manier van lewe hier op die aarde, doen kinders dit ook: 16Onthou ook om goed te wees vir ander mense. Gee ook vir hulle van dit wat jy het. God hou daarvan as ons so maak.

Tjommie twee bring die storie nader aan die huis. Hy vertel dat sy pa altyd vir hulle as kinders sakgeld gegee het. Hiervoor moes hulle hard werk. Een van die vereistes was dat hulle deur die jaar vir hulself ’n kersgeskenk moes koop. Daardie een wat hulle hart begeer het.

In Desember, het hulle altyd by kindershuise op pad see toe oornag. Dis dan by een van die kinderhuise waar elke kind van die gesin iemand moes uitsoek vir wie hy of sy die geskenk moes gee. Die geskenk wat hulle so erg wou hê en met hulle eie swaarverdiende geld moes koop.

Tjommie een hak af en sê vir tjommie twee: “Nou verstaan ek hoekom jy so maklik alles vir ander doen. Dis omdat jy dit by jou ouers geleer het.” Ek knik my kop stadig en aanmekaar, want hy sal selfs die beste in sy kas, garage of yskas vir ander gee.

Sy ouers het verstaan wat dit beteken 16… om goed te wees vir ander mense. Gee ook vir hulle van dit wat jy het. God hou daarvan as ons so maak. Hulle het, soos Don se ouers, verstaan hoe om dit uit te leef en so die stokkie aan te gee aan hul kinders, alhoewel sommige van die kinders die stokkie langs die pad verloor het.

Laat ons dan ook maak soos Don en my tjommie se ouers. Laat ons die opdrag ernstig opneem en goed wees vir mense om ons. Laat ons ons kinders wys wat hierdie opdrag beteken. Laat ons hulle help en hulle voorberei om eendag ook van hulself aan ander uit te deel.

Vir seker sal God daarvan hou!

Teks
Hebreërs 13:9-16

Om oor na te dink
Verstaan jy jou opdrag?
Vertel jou lewe daarvan?
Doen ander om jou ook so?

Gebed
Here, dankie vir al die genade wat ek van U ontvang. Mag ek daarvan mildelik uitdeel aan die ander om my, sodat hulle ook leer van omgee en oorgee en uitgee en deel. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek