Leer en verstaan God sal sorg
Ek moet ’n vriend begrawe. Ek ken hom seker al van geboorte af. Ons paaie het hier en daar in die lewe langs mekaar geloop. Die langste was seker toe ek op die buurplaas geboer het en ek gehelp het om die druiwe in die kelder te kry.
Hy was ’n briljante wynmaker. Hy het die Generaal Smuts beker (vir die beste wyn op die Jongwynskou) twee maal met ’n portwyn gewen. Niemand anders het dit in die wynbedryf reggekry nie.
Voor die begrafnis gaan sien ek sy susters, seuns en vroutjie. Dis nou om hom te sien deur hulle oë. Hy was ’n groot man, vêr oor die ses voet en het die kamer volgemaak met sy teenwoordigheid. Ja, daar was ook tye wat die donker oor hom gesak het, maar hy gaan erg deur almal gemis word.
Dit was so lekker om meer van hom te leer deur die oë van ander naby hom. Vir die eerste keer in al die jare leer ek hom goed ken, die mooi kant en die kant waar hy as mens ook maar net mens was.
Wanneer ’n mens iemand beter leer ken, verstaan ’n mens hoekom hy is soos hy is. ’n Mens verstaan die hoek waaruit hy bat en die stoffasie waaruit hy gemaak is. Jy weet waartoe hy in staat is en waarheen hy op pad is.
Ek vermoed dieselfde is waar as ons oor God praat. As ons God werklik verstaan, as ons Hom werklik ken, sal ons Hom heel waarskynlik meer vertrou. As ons God se hart hoor en sien wat Hy alles vir ons doen, sal ons gouer na Hom hol om skuiling te gaan soek.
Ons almal ken Jesus se aardse verhaal. Ons weet dat Hy aan die kruis gesterf het in ons plek, sodat ons nie self doodgemaak hoef te word vir alles wat ons aanvang nie. Ons weet die skarniere van die hekke van die hemel is vasgeroes – in die oopposisie.
Wat het dit veroorsaak? Wat was die vonk wat die vuur van Jesus se verlossende daad aan die gang gesteek het? Liefde! Goddelike liefde. Liefde wat God vir die mens, vir jou en my, het. Hy gee soveel om vir ons, ons is só belangrik vir God, dat Hy bereid was om Sy eie geliefde Seun in ons plek te laat sterf.
God gee regtig om oor my en jou welstand. Hy sien ons seer en ons pyn. Hy beleef saam met ons die trauma en die onsekerheid. Hy sien hoe ons rondrol en nie meer planne het om te maak nie.
God is nie soos die ander gode wat so vêr en tjoepstil is dat geen mens weet waar hulle is nie. Nee, Hy is ’n betrokke en teenwoordige God wat ons en ons omstandighede raaksien.
Wanneer die winde om ons waai en die storms onbeheers woed, raak ’n mens rustig om te weet dat ons nie alleen daar staan nie, want die Een wat vir ons sorg, is saam met ons daar!
Leer God ken. Sien Sy hart raak. Sien hom daar saam met jou in die lewe loop. Wanneer jy genoeg tyd met God deurbring, sal jy weet 7… Hy self is die Een wat vir julle sorg. Daarom, met vrymoedigheid, 7Neem al die dinge waaroor julle julle bekommer of wat julle omkrap na God toe …
Teks
1 Petrus 5:5-7
Om oor na te dink
Ken jy vir God?
Ken jy Hom goed genoeg om Hom te vertrou?
Glo jy regtig dat Hy vir jou sal sorg?
Gebed
Vader, ek glo met my hele hart dat U saam met my in die storm is. Ek glo dat U sorg, ook vir my. Help my asseblief wanneer ek twyfel. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.