Leeu, vuur of oorlog
Ons soek ’n rots om teen ’n preek te skiet. Ek het gedink ons sal regkom daar bo by Gordonsbaai by die Steenbrasdam, maar hulle wil ons nie inlaat nie. Ons ry al om die kus tot by Rooiels, maar daar is geen rotse naby die pad nie. Ek sien ’n lekker plek, maar daar is groot bobbejane en ons ry verby.
Toe ons by Pringlebaai inry, vertel Johan dat hulle een keer daar by vriende oorgeslaap het. ’n Bobbejaantrop het die huise begin invaar. Hy vertel dat hy nog nooit soveel aggressie in ’n dier gesien het nie. Hulle almal het verskrik weggehol na veiligheid.
As ons so bang is vir ‘n bobbejaan, wat sal ons maak as ons in ’n leeu moet vasloop?
Ek was al op plekke in my lewe waar ek deur ’n leeu aangeval is. Nee, nie ‘n regte leeu nie, maar ’n uitdaging wat oor my pad gekom het wat gevoel het of dit my verswelg. Onlangs, toe ek Covid gehad het en gesukkel het om asem te haal, het ek so benoud gevoel. Dit was soos ‘n leeu wat op my bors gesit het. Dit het gevoel of dit my verskeur.
’n Leeu kan in baie vorme ’n mens kom aanval. Die een wat ’n mens die meeste aanval, is die geldleeu. Daar gebeur net iets. Jy verloor jou werk of ’n belegging wat suid gegaan het, of ’n swendelaar wat sy vuil hande in jou beursie gedruk het, of ’n onlekker keuse en jy kan nie meer jou verantwoordelikhede aan die einde van die maand nakom nie.
Dalk val die leeu jou in jou verhoudings aan of dalk by die werk, of die besigheid, of op ’n ander plek in jou lewe. Dit is heel normaal. Dit is Petrus wat sê dat die duiwel soos ’n brullende leeu rondloop en iemand soek om te verskeur.
Nou wat maak ’n mens met die leeus in ons lewe?
Ons moet gaan leer by die manne van die Ou Testament. 33Omdat hulle God vertrou het, het hulle konings op hulle plek gesit, gedoen waarvan God hou en gekry wat God beloof het. Leeus kon party van hulle nie verskeur nie, 34vure kon ander nie brand nie en mense kon party van hulle nie met swaarde doodmaak nie.
Omdat hulle op God vertrou het, het hulle bly lewe. Fisiese leeus het hulle aangeval, maar kon hulle nie verskeur nie. Toe hulle in ’n oond gegooi is, het daar nie ‘n haartjie op hulle kop geskroei nie. Toe groot leërs teen hulle opgetrek het, het nie een swaard hulle deurboor nie, omdat hulle geglo het.
Hulle het geweet God is by hulle en sal hulle beskerm. Hulle het met hulle hele hart geglo dat God by hulle is en hulle sal help om die uitdaging, die leeu, die vuur, die oorlog saam met hulle te veg. En wanneer ’n mens die prentjie sien van die grote God wat saam met jou die geveg veg en dat jy nie alleen is nie, kry ’n mens moed en takel jy die uitdaging in jou pad met durf aan. Dan is die oorwinning net om die draai.
Mag dit waar word van jou lewe. Mag jy die leeu, vuur of oorlog voor in jou pad met nuwe durf en moed aangryp, omdat jy glo en vertrou dat God saam met jou veg en sal sorg vir ‘n oorwinning.
Teks
Hebreërs 11:32-40
Om oor na te dink
Watter leeu is in jou lewe wat jy vrees?
Glo jy dat God saam met jou die geveg veg?
Wat moet jy doen om die leeu te verwilder?
Gebed
Vader, soms raak ek bang as ek so om my kyk. Dit voel of die lewe my wil verswelg. Ek het U so nodig. Ek glo dat U my kan help. Ek glo dat U saam met my veg. Nou is ’n goeie tyd om my te help. In Jesus se Naam, amen.