God se Woord in vandag se woorde

Lewe gee, selfs deur die dood


Baie keer trek mense die teologie skeef. Hulle lê só klem op die feit dat Jesus vir ons sondes aan die kruis gesterf het en dat ons niks hoef te doen om ons plekkie in die hemel te verseker nie, dat dit ons eintlik vryskeld van enige verantwoordelikheid om volgens God se wil vir ons lewe te leef.

Die probleem is dat die mense soveel klem lê op wat Jesus gedoen het en dat die mens nie hoef te werk vir hulle saligheid nie, dat hulle nou niks doen nie.

Sommige raak selfs bang om iets te doen, want netnou staan hulle in die pad van wat Jesus aan die kruis vir die mens reggekry het. Hierdie manier van dink is nie heeltemal reg en volledig nie.

Jy sien, as jy Jesus se werk aan die kruis verstaan, kan jy nie anders as om ook iets te wil doen nie. ’n Mens kan nie ongeroer, sonder werke staan, as dit wat Jesus gedoen het jou tref nie.

’n Mens word oorval deur dankbaarheid. Dan wil ’n mens self goed begin doen. Die opofferende daad van Jesus aan die kruis steek ’n mens aan. Dit warm ’n mens op. Dit mobiliseer jou om goed te doen en in gehoorsaamheid aan God te wil leef.

Op ’n manier wil ’n mens, kan ’n mens nie anders as om die goeie wat jy ontvang het, aan te gee aan die mense rondom jou wat dit net so min soos jy verdien. Dit is twee kante van die dieselfde munt. Die een kant is die verlossing van Jesus en die ander kant is die goeie werke wat ons nie anders kan as om wel te doen nie.

Ek het eendag ’n fliek gekyk met die naam Pay it forward. ’n Student help sy sukkelende moeder en implementeer die idee dat as jy iets ontvang, moet jy dit ook met ander deel. Daar het ’n groot brander van menslike vrygewigheid en vriendelikheid deur die hele land gespoel en hordes mense se lewens het verander.

Hoe anders sal die wêreld nie lyk as ons dit wat ons ontvang, ook uitdeel aan die mense rondom ons nie. Die wêreld is honger en dors vir positiewe ervarings. Hulle soek na ware vreugde en vrede. Dit is net by God te vind. Ons het dit. Ons moet dit gaan uitdeel. Dit kan en sal ’n groot verskil in baie mense se lewens maak!

Ons is lewende stene. Ons is ingemessel in God se Nuwe Huis en ons almal lê in lyn met die lewende steen, Jesus. Dis Hy wat ons lewe gee. Wanneer jy ’n lewende steen is, word jou lewe gekenmerk deur lewe en gee ’n mens lewe.

As ons nie lewe gee aan die mense om ons nie, is die kans dat ons dood is. Dan is ons die vrot steen in God se Nuwe Huis. Dan veroorsaak ons die swak plek. Ek wonder of dit die rede is hoekom so baie kerk uitmekaarval?

Nog ’n fliek. Two harts. ’n Ware verhaal van ’n jongman wat op 18 sterf. Sy ouer broer wil nie hê dat hulle hom moet “opkap” en in stukke sny nie. Sy ma vat hom sag aan die hand en sê dit was sy wil om sy organe te skenk.

Die fliek eindig waar die families van die vyf mense wie se lewe hy gered het, stil kom dankie sê aan die ouers van die jongman wat gesterf het. ’n Lewende en ja, dan ook ’n dooie steen, wat lewe gegee het. Deur lewe en sterwe word Jesus, die lewende steen, gedien.

5Julle moet ook sulke goeie, lewende stene wees sodat God julle in die geestelike huis kan inbou. Dit is maar ’n ander manier om te sê dat julle mense moet wees wat die Here elke oomblik van julle lewe dien.

Teks
1 Petrus 2:1-8

Om oor na te dink
Lewe jy?
Laat jy lewe?
Sien ander die lewende steen raak?

Gebed
Vader, ek is ’n lewende steen wat langs die lewende Jesus lewe. Ek wil meer lewe gee. Heilige Gees, help my om weg te kyk van myself en onselfsugtig ander mense te dien. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek