God se Woord in vandag se woorde

Lewe Jesus


As ek jou sou vra om drie van die eienskappe van Jesus wat vir jou uitstaan, neer te skryf,wat sal dit wees? Elkeen van ons sal seker ’n ander lysie hê, want dit hang af van waar jy nou in jou lewe is. Waardeur jy al is en wat nou op jou bord is.  

As ek aan Jesus dink, sien ek dadelik Sy passie vir ander mense raak. Jesus kon Homself nie keer om vir die siek mense om te gee nie. Hy was nie bang om ’n wonderwerk uit die mou te pluk om ander gesond te maak nie. 

Die verlore mens was heeltyd in Sy visier en sal nie skroom om mense te vertel van die verlossing wat Hy vir hulle bring nie. Jesus sou enige iets doen vir Sy medemens, selfs aan ’n kruis hang. 

Jesus het ons kom leer wat dit beteken om ’n intieme verhouding met God te hê. Jesus het keer op keer met Sy Vader gaan praat. Hy het geweet dat Hy op Sy eie nie Sy roeping op aarde kon uitleef nie. 

In hierdie spesiale verhouding het Jesus vir God geken en kon Hy vir Sy medemens ’n prentjie skilder van God, sodat hulle ook Sy ware liefdevolle hart kon raaksien. 

En natuurlik, as ek aan Jesus dink, kan ek nie anders as om aan die kruis te dink nie. Dis hoekom ek ‘n groot houtkruis in ons tuin het om my net nog meer daaraan te herinner.  

Aan die kruis het Jesus kom doen waarvoor Hy geroep is en dit is om vir die hele mensdom se sondes te sterwe. Hier aan die kruis het Hy Sy lewe gegee, sodat die mens kan lewe. 

Jesus kom ruil plekke met die mens. Die sonde se straf is die dood. Jy moet met jou lewe betaal vir die sondes wat jy aanvang. Jesus kom egter en ruil plekke met die mens en sterf in die mens se plek.  

Hoe onselfsugtig! Jy sien, dis Jesus se passie vir die mens en Sy verhouding met Sy Vader wat Hom beweeg om geoffer te word aan ’n kruis. Hy kan Homself nie keer nie. 

Die drie eienskappe wat vir my uitstaan van Jesus, is: medemens, verhouding met God en vergifnis. Dalk is joune dieselfde. Dalk anders. Dit maak nie eintlik saak nie. Wat wel saak maak, is dat ons vir Jesus na-aap. 

Dis eintlik ’n opdrag: 6Ons moet dus nie net praat oor wat Hy wil hê nie. Ons moet elke dag daarvan werk maak om presies so te leef soos Jesus geleef het. So kan ons seker wees dat ons deel van God se familie is en bly. 

As jy deel is van die familie van God, as jy Sy kind is, het jy nie ’n keuse nie. Jy moet lewe soos die res van die familie. Jy moet maak soos die res van die familie. Jy moet lewe soos Jesus ons gewys het. 

Dalk moet jy ook nou ’n lysie maak van die eienskappe van Jesus wat vir jou die meeste uitstaan. Maak dan ’n punt daarvan om dit elke dag deel van jou eie lewe te maak.  

Teks
1 Johannes 2:3-9 

Om oor na te dink
Watter drie eienskappe van Jesus staan vir jou uit?
Is dit sigbaar in jou lewe?
Waar moet jy dit gaan uitleef? 

Gebed
Jesus, U wys vir ons hoe ons moet lewe. Help my om dit in my lewe waar te maak en ander mense eerste op my lysie te plaas. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek