Lewe met ’n bril van die hiernamaals
Abraham het ’n intieme verhouding met God gehad. Uit hierdie verhouding het hy ’n onwrikbare geloof in God ontwikkel. Soveel so, dat Abraham dadelik getrek het toe God hom geroep het om na ’n onbekende land te trek. Hy het God blindelings gevolg.
Uit hierdie verhouding het Abraham nog meer geleer. Hy het geleer dat daar ’n lewe na die ene hier op aarde is. 10Abraham het die hele tyd uitgesien na die stad wat op fondamente gebou sou word, die stad wat God self sou ontwerp en bou.
Hy verwys nie na die fisiese tempel wat in Jerusalem gebou sou word nie, maar eerder na die nuwe Jerusalem, soos beskryf in Openbaring 21. Die een wat op ons wag na ons lewe op die aarde verby is en wat nie deur die mens gebou is nie, maar deur God self.
Ek besef dat ’n mens anders na die lewe kyk as jy deur die bril van die toekoms hierna daarna kyk. Wanneer ’n mens weet dat daar ’n lewe na die aardse lewe op ons wag, weet ons hierdie een is net tydelik.
Ons is kampers en vat graag vir Faantjie, die bos-wa wat ek self herbou het, die boendoes in. Faantjie is baie gemaklik en dit kos net twee knippe losmaak en die matras omvou, dan is die bed reg vir slaap. Maar die seil bo-oor trek nogal baie amps en ’n paar mense moet help om die klomp pale en toue en penne gestaan te kry.
As ons dus die lang pad vat en die eerste aand langs die pad oorslaap, maak ons net die knippe los en vou die matras om. Dis dan te veel moeite om die hele gepak uit te rol. Eers wanneer ons weet ons slaap vir ’n paar dae op een plek, maak ons moeite met die res.
Om ’n stukkie van die toekoms te sien, het ’n impak op wat ons nou hier doen. Ook so met alles wat ons op die aarde doen. Dit help nie ons maak vir ons karre, geld, huise, aansien en wat nog alles bymekaar, asof ons vir die res van ons lewe hier gaan woon nie.
Nee, ek sê nie ons moenie dit vir ons lekker maak op die aarde nie. Natuurlik kan ons ons hard verdiende geld spandeer. Maar doen dit net met die bril van die ewige lewe wat vir ons wat in God glo, lê en wag. Dan gaan ons aankope anders lyk. Dalk gaan dit ligter wees, want ons besef dis maar net tydelik.
Dan gaan ons dalk meer die ander wat nie so bevoorreg soos ons is nie, in die oog hê. Dan gaan ons dalk graag deel. Dan gaan dit wat ons weggee dalk vir ander nie net ’n prentjie gee van die lewe hier nie, maar ook van die lewe hierna.
Kom ons probeer nog meer energie en tyd in ons verhouding met God sit. Dan gaan ons God leer ken en al hoe meer ons vertroue in Hom plaas. Dan sal ons Sy stem hoor en meer binne Sy wil begin lewe. Dan sal ons ook ’n prentjie van die hiernamaals kry. Dan sal ons anders lewe en die mense om ons sal anders word.
Teks
Hebreërs 11:8-19
Om oor na te dink
Waar is jou visie?
Kyk jy met ’n bril op van die hiernamaals?
Hoe verander dit jou lewe?
Gebed
Vader, ek besef ons is maar net tydelik hier op die aarde. Ek moet bieg, ek maak eintlik bymekaar asof ek vir altyd hier gaan bly. Help my om op te kyk en raak te sien dat U reeds die lewe hierna vir my voorberei het. Dan sal ek mos anders hier lewe. In Jesus se Naam, amen.