Lewe sonder ’n bak met pere
Ons staan elke dag voor keuses. Sommige is maklike keuses. Sommige weet ons sommer van die staanspoor is verkeerd en ons kyk nie eers in daardie rigting nie. Sommige kere is dit nie altyd so maklik om te onderskei watter kant toe is reg nie.
Sommige kere weet ons dit is verkeerd, maar tog doen ons dit, want dit word aangevuur deur ’n vuur wat binne ons brand. Die gevolge daarvan nie altyd so vars nie en dan sit ons met ’n pak vol gebakte pere.
Attie (skuilnaam) het verkeerd gekies en sit met ’n paar pere:
Ek was een van daardie mense wat oor die draad gespring het. As ek net geweet het wat ek vandag weet, het dit nie eers deur my gedagte gegaan nie.
Ek is nou vier jaar geskei en as ek dit kon verander, sou ek. Ek hoop en glo die Here sal my vergewe vir dit wat ek gedoen het. Dit het my uitmekaar geskeur en dit voel of dit nie regkom nie. Ek is so spyt daaroor.
Hoe kom ’n mens weer op die been? Ek het nooit weer na ’n ander vrou gekyk nie. Maar die alleen is verskriklik erg. Ek sukkel om met die Here te praat. Dit is baie erg om nie met die Here te kan praat nie, ek kan niks vir Hom sê nie …
Help asseblief!
As ons terugkyk oor ons eie lewe, is daar heel waarskynlik ook keuses wat ek en jy gemaak het wat nie lekker vars was nie. Dalk sleep ek en jy ook ‘n bak pere saam. En dis nie lekker nie.
Dankie tog vir Jesus se genade wat vir hierdie verkeerde keuses van ons gesterf het en dat ons nie die straf daarvoor hoef te dra nie. Jesus het klaar aan die kruis daarvoor gesterf.
Wanneer ons besef wat Jesus vir ons gedoen het, kan ons mos nie anders as om ons lewe reg te lewe en te sorg dat ons beter keuses maak nie. Wanneer ons uitsien om Jesus en God eendag in die nuwe hemel en aarde te ontmoet, wil ons ons dade in lyn kry met God se wil.
14My liewe broers en susters, omdat julle uitsien na alles wat in God se nuwe wêreld op julle wag, moet julle julle bes doen om so te leef dat julle God se hart altyd bly maak. Daar moenie eens ’n vuil kolletjie sonde in julle lewens te sien wees nie.
Natuurlik wil ek só leef dat my storie hier op aarde vir God ’n lekkerlees-storie is. Daarom moet ek met alles in my probeer om elke dag se keuses vars te hou. Met wortel en tak moet ek die vuil kolle in my lewe uitroei.
Dis ongelukkig nie so maklik nie, want sonde is eintlik lekker om te doen. Totdat die bak met gebakte pere opdaag. Dan is dit te laat en sit ons met die gevolge. Ja, dan is ons skaam en ons wil nie eers ons gesig voor God wys nie.
Dis tyd vir ’n pen inslaan. Dis tyd dat ons seker maak dat elke keuse, groot of klein, in lyn is met God se wil vir ons lewe. Laat ons dade vertel dat ons uitsien na die koms van die nuwe wêreld en ander lus maak om saam te gaan.
Teks
2 Petrus 3:8-13
Om oor na te dink
Hoe lyk jou keuses?
Hoe moet jy anders leef vir God om oor jou te glimlag?
Waar is daar nog vuil kolle?
Gebed
Vader, ek sien so uit na U nuwe wêreld, maar ai, soms wys my keuses anderkant toe. Help my om orals reg te kies en die pere eers te laat verbygaan. Amen.