Lewe soos God graag wil hê
Ek doen navorsing onder die mense wat na ons aanlyndienste op YouTube kyk. Ek wil weet of ons die bal raak slaan en waar ons dalk moet aanpassing doen, sodat God se Woord in vandag se woorde kan grondvat.
Ek vra sommer so terloops oor watter onderwerpe sou hulle graag meer wil leer. Die vraag is so gestel dat hulle vir ons moet sê watter uitdagings daar in hulle pad is en waarmee ons dalk kan help.
Die onderwerpe wat op die tafel geland het, was heel voorspelbaar. Mense wil meer weet van God. Mense wil weet hoe Jesus kon sterf vir sondige mense en natuurlik hoe hoor ons die stem van die Heilige Gees.
Die oorgrote meerderheid van vrae waarmee die mense sukkel, is om te weet hoe hulle as gewone kinders van God hier in die wêreld moet lewe. Of eerder: hoe lewe ’n mens die wil van God in ’n (swaar) wêreld vandag?
Wanneer Petrus dan vir ons sê: 22Julle lewe nou mos graag soos God van julle verwag en volgens wat vir Hom reg is, skiet daar ’n heel paar vraagtekens in baie mense se gedagtes op.
Lewe ek regtig my lewe op ’n manier wat vir God aanvaarbaar is? Doen ek soos Hy wil? Lewe ek die lewe wat God in gedagte gehad het toe Hy besig was om my in my moeder se baarmoeder aanmekaar te weef?
Die waarheid hier is seker dat die meeste van ons in die hek duik. Ons tonge is net te los en die wagte word gereeld aan die slaap gevind wat veroorsaak dat daar ’n klomp afkopmense in ons omgewing rondloop.
As ek kyk na die dinge wat ek verkeerd gedoen het, die keuses wat nie lekker was nie en waar ek toegegee het aan druk, moet ek my kop in skaamte laat sak. Ek weet daar is tye wat ek nie die toets deurkom nie.
Dan wil ’n mens in sak en as gaan sit, maar dit moet ons nie gaan doen nie. As ons gaan sit, gaan ons in die hande van die duiwel speel. Hy wil juis hê dat ons mismoedig raak en tou opgooi.
Laat ons ons eie brug hieroor bou. Laat ons moed skep en weer probeer. Laat ons weer en weer probeer en leer uit ons foute. Laat ons planne maak en ander vra om te help om die regte dinge te doen.
Laat ons nooit die droom verloor nie. Laat ons elke keer opstaan as ons val. Laat ons keer op keer voortbeur en weer probeer. Erens langs die pad sal ons sterker word en wysheid kry om dalk die volgende keer nie weer dieselfde fout te maak nie.
Laat ons elke oggend opstaan met die droom om te doen wat reg is. Laat ons elke oggend die lewe instorm en sê: “Vandag gaan ek doen wat God se hart bly maak. Vandag gaan ek doen wat reg is. Vandag gaan ek ’n verskil maak in baie se lewens en net God se liefde saai. Al maak hulle wat!”
Teks
1 Petrus 1:22-25
Om oor na te dink
Waar trek jy skeef?
Waar moet jy anders lewe?
Hoe gaan jy dit regkry?
Gebed
Vader, ek wil ’n lewe leef wat U bly maak. Ek wil die mense rondom my wys hoe bly U oor my is. Help my om só te lewe. Ek vra dit in die Naam van Jesus. Amen.