Lewe vergifnis
Wanneer kinders nie reg doen nie, moet ons hulle aanspreek, want anders dink hulle ons keer hul verkeerde dade goed. As iemand in ons gesin nie mooi werk met ’n vriend of vriendin nie, trek ek hulle op ’n geskikte tyd eenkant toe en sê mooi vir hulle dis nie hoe ons dit doen dit nie.
Hopelik sal die aanmaning en ook die wys van hoe ons met mekaar praat, help om ook hulle manier van kommunikeer aan te pas en seker te maak dat hulle altyd mooi met ander werk.
Die Bybel help ons keer op keer daarmee om te sê hoe ons moet lewe. Die een ding waaroor God se Woord nogal reguit praat, is sonde. As ons nie binne die wil van God lewe nie, as ons nie doen soos Sy wet vir ons vertel ons moet maak nie, is ons besig om ’n koek van sonde te bak.
Hoor hoe reguit is Johannes: 4Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God. (1983-vertaling)
Ek vermoed hierdie is nie nuwe nuus nie. Ons weet wanneer ons op die regte pad is, maar ons weet ook wanneer ons nie op die regte pad is nie. Die Heilige Gees laat gou van Hom hoor as ons in die verkeerde rigting op pad is. Dan pla dit ’n mens.
Soos hierdie e-pos wat ek van Coen (skuilnaam) kry:
Ek het Jesus aangeneem op ‘n jong ouderdom as my Verlosser en Saligmaker. My keuse vir Jesus was my beste keuse, en ek kies Hom nog altyd.
Ek het van toe tot nou egter baie onwyse lewenskeuses gemaak. Nou is ek egter hier, en dit voel asof al die keuses wat ek gemaak het, verkeerde keuses was. Kere wat ek gedink het dat ek die Here reg hoor, maar vandag voel dit asof ek nie reg gehoor het nie.
Ek het voor die Here bely en vergifnis gevra en ek glo Hy het my vergewe en skoongewas met Sy kosbare bloed. Dit bly egter ‘n worsteling in my hart.
Miskien sou dit goed wees as ek ook iemand kon hê by wie ek alles wat ek aan kan dink, kon bely en wat saam met my kon bid …
Die verkeerde dade en keuses pla vir Coen en dit is ook reg so. Want, die pla moet ons keer om nie weer verkeerde afdraaie te vat nie. En ja, soms kan ons ’n vertroueling kry om ons te help om ontslae te raak van die skuldgevoel.
Daar is egter nog ’n volgende stap hierna en dit is om die pakkie sonde dan by Jesus se voete te laat en die vergifnis te aanvaar. Hy het juis na die aarde gekom om die las van die sonde namens ons te kom dra.
Ek is ook geneig daartoe om myself te kasty oor verkeerde dinge wat ek aangevang het. Dit breek egter my spoed en keer my om voluit vir God te lewe.
Laat ons dus weer hoor dat ons nie moet sondig en buite God se wil moet optree nie. As ons êrens geglip het, moet ons dit bely voor Jesus. Dan, baie belangrik, moet ons Sy vergifnis ontvang, weet Hy het klaar met ons skuld afgereken en dan vry gaan lewe.
Teks
1 Johannes 3:4-10
Om oor na te dink
Waar het jy gesondig?
Het jy dit alles al bely?
Hoe kan jy weer vry lewe?
Gebed
Vader, ek bely al die verkeerde dade wat ek al aangevang het. Ek vra dat U dit deur Jesus sal vergewe. Heilige Gees, help my nou om ’n lewe te leef sonder verkeerde keuses. Help my om werklik vry te lewe. Amen.