Lewende stene in God se virtuele huis
Die tempel het sentraal gestaan in die Jode se aanbidding. Dit was ’n forse gebou waar hulle geglo het God leef. Hier het hulle tot Hom geoffer. Hier het hulle met oorgawe vir God gedien.
Maar in die jaar 70 na Christus het die Romeine gekom en die tempel platgevee met die aarde. Dit was ’n groot skok vir die ortodokse Jode, maar eintlik was so ’n klipgebou nie meer nodig nie.
Jesus het gekom en Hy het nou ’n “lewendige” tempel gebou. Hy vorm die hoeksteen en Sy broers en suster word langs Hom ingebou. Ons is die stene wat langs Hom gelê word wat God se, mag ek sê, virtuele kerk vorm.
Jy sien, God leef nie meer in ’n klipgebou nie. God leef nou in ons deur Sy Gees. Was die skeur van die tempel se gordyn met Jesus se kruisdood nie juis ’n teken dat God ook nou in elkeen van Sy kinders leef nie?
Wanneer ons dan kies vir Jesus en Hom aanneem as ons Saligmaker, kry ons lewe, lewe om as lewende stene ingebou te word in God se virtuele kerk. Saam met Jesus wat lewe en ons wat lewe, vorm ons ’n sigbare virtuele kerk in die wêreld vandag.
5Julle moet ook sulke goeie, lewende stene wees sodat God julle in die geestelike huis kan inbou.
In hierdie lewendige huis van God, moet ons as lewende stene Hom aanbid en loof en eer in die wêreld. Ons hele lewe as lewende stene moet getuig van ’n lewe wat dankbaar is en aan ons Skepper eer betoon.
Ek dink ons vergeet baie keer hierdie status wat ons het. Wanneer ons by die werk is of by die skool, wanneer ons daar met die gesin se dinge deurmekaar is en die dinge nie loop soos ons wil hê dit moet loop nie, reageer ons nie soos lewende stene nie.
Dis asof ons teruggryp na ons status as ongereddes en dan tree ons maklik uit selfsug op. Dan is ons dooie stene en veroorsaak ons ’n swak plek in God se virtuele gebou. Waar ons eintlik vir die wêreld moet wys hoe lyk ’n lewende steen, doen ons presies die teenoorgestelde en stoot ons die wêreld weg.
Wanneer ons sê ons is lewende stene, moet ons gedrag ook wees soos lewende stene. Dan moet ons ’n goeie geur afgee in die wêreld. Onthou, die dood se geur is nie lekker nie en stoot mense af.
Om lewende stene in die wêreld te wees, is nie onderhandelbaar nie. Dit kom saam met die pakkie. As ’n mens langs Jesus, die lewende steen, ingemessel word, ontvang jy ook die lewe.
Ja, ek weet ons sukkel om nie gedurig terug te neig na die ou mens nie, maar ons moet probeer om die regte dinge te doen. Maak moeite met jou status as lewende steen in God se virtuele huis. Maak seker dat jy ’n mooi prentjie vir die wêreld wys. Lewe só dat ander ook ’n lewende steen wil wees. Maak seker dat jy in alle omstandighede regtig ’n verskil maak.
Teks
1 Petrus 2:1-8
Om oor na te dink
Wat beteken dit vir jou om ’n lewende steen te wees?
Waar glip jy nog?
Waar kan jy ’n betroubare lewende steen wees?
Gebed
Vader, dankie dat Jesus die lewende hoeksteen is. Ek weet ek is ’n lewende steen wat langs Jesus in U huis ingebou word. Help my om as ’n lewende steen ’n merkbare verskil in die wêreld te maak. Amen.