God se Woord in vandag se woorde

Liefde in lewende lywe


(Ons het Woensdag ‘n probleem met ons e-pos stuurprogram gehad, so hier is Woensdag se leesstuk vir die wat dit nog nie ontvang het nie.)

Ek sit by ’n vriend van my. Terwyl hy met my praat, loop die trane. Hy vertel van die laaste oomblikke voor sy dogter se operasie. Hulle moes haar been amputeer, net onder die knie. Hulle het ’n baie aggressiewe kanker in haar fibula ontdek. Slegs twee uit ’n miljoen kinders kry dit, en nou is sy een van die twee.

Sy is maar 16 jaar oud …

Hy sê net soos hulle die masker oor haar gesiggie vasmaak, sê sy sag hoe lief sy hom het en dankie vir alles wat hy vir haar doen. En toe, drie keer na mekaar, roep sy kliphard uit: “Liewe Jesus help my! Liewe Jesus help my! Liewe Jesus help my!”.

My vriend raak ’n bietjie stil, terwyl die trane sommer loop. Ek sien die deernis, die liefde, die omgee in lewende lywe voor my afspeel.

“Jy weet Gerjo, as ek net kon, het ek in ’n oogwink al die kanker by haar oorgevat, sodat sy nie die pad hoef te loop nie. Sommer nou, sê ek jou!”

Dis ware omgee. Ware deernis. Ja, ware liefde.

Ewe skielik maak die vers net vir my soveel meer sin: 5Hy het ons verlos. Hy het dit nie gedoen omdat ons so goed geleef het sodat Hy ons moes verlos nie. Nee, Hy het dit gedoen omdat Hy ons baie jammer gekry het.

Dis wat ware liefde is. Jesus het ons so jammer gekry, dat Hy in ons plek die pak gaan vat het. Dis nie wat ek of jy gedoen het nie, want dis in ieder geval veels te min. Hierdie verlossende daad van God, deur Jesus, word aangevuur deur Hulle liefde vir ons.

Die liefde van ’n vader vir sy dogter, sy hart se punt, is so oorlopens baie dat hy met alles in hom smag om die pakkie by haar te vat en namens haar te dra.

Ek wonder of sy rêrig kan besef hoe lief haar pa haar het?

Ek wonder of jy rêrig besef hoe groot die liefde is wat God vir jou het?

Baie keer kruip ons tussen die vloer die politoer rond, want ons dink ons is niemand nie. Die lewe is eintlik een deurmekaarspul en die gemors dreig om oor te loop. En die netto effek? Ons voel soos hoenders. Ons voel ons het geen waarde nie, want ons vang die een simpel ding na die ander aan. Ons selfbeeld is by die deur uit en ons selfwaarde tussen nul en minus een. Wie sal ons dan nou wil liefhê?

God! God is goed daarin om sondaars lief te hê. God is so lief vir ons wat droogmaak, dat Hy bereid is om Sy Seun te stuur om vir die droogmaak te betaal. Dis ware deernis, omgee en baie liefde!

Staan op en sê dit vir jouself. Plak dit teen jou skerm en spieël. Jy is geliefd. God het jou ondenkbaar lief. Sy goddelike liefde loop oor vir jou. Soos my vriend in sy dogter se plek die kanker wil oorneem, so het Jesus reeds klaar jou pakkie swaarkry oorgeneem. Alleen uit liefde.

Jy is geliefd. Jy is spesiaal. Jy is God se eerste liefde. Gaan leef dit!
Teks
Tit 3:3-7

Om oor na te dink
Voel jy geliefd?
Besef jy hoe lief God jou het?
Hoe leef ’n mens dit?

Gebed
Vader! Jesus! Hoe lief is U nie vir die mens nie? Hoe lief is U nie vir my nie? U Seun het my straf kom dra. Dis liefde in aksie. Mag ek dit ook nou daar buite gaan uitleef. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek