Liefde, vrede, vreugde nie ’n pie in the sky
Paulus sluit sy brief aan die mense van Korinte af met ’n wens. Hy wens vreugde vir hulle toe en hy wens vir hulle ook ’n hoop vrede en ware liefde toe: 11Ten slotte: julle lewe moet altyd vol blydskap wees. Lewe presies net soos God vir julle sê. Luister na alles wat ek vir julle gesê het. Wees eensgesind. En lewe asseblief in vrede met mekaar. Ons wonderlike God wat sy liefde oor ons almal uitgestort het en aan ons sy vrede gee, sal altyd by julle wees. 12Groet mekaar hartlik, soos dit by broers en susters in die Here pas. Almal wat aan die Here behoort, stuur ook vir julle groete.
Dit klink eintlik so bietjie na ’n pie in the sky, want sien, Paulus, jy het nog nie my lewe gesien nie. Hier is dit maar net elkeen vir homself. As jy nie in die proses op iemand trap nie, gaan jy eenvoudig nie bo uitkom nie. En het jy gesien hoe vlieg die curve balls hier om ons heen? Dis die een swaar ding na die ander wat ons moet verwerk. Hoe kan ’n man dan nou gelukkig wees en al die pad smile? En vrede, wat is vrede? En liefde? Kyk ’n bietjie hier om my heen. Dis net baklei en mekaar se koppe afbyt en oorlog. Nie net daar ver nie, sommer hier in ons eie huise ook.
Ag nee wat, Paulus, word wakker en ruik die rose.
En ongelukkig is dit waar. Blydskap, vrede, eensgesindheid, liefde en al die mooi dinge bly soek in ons lewens. Ons wil eintlik in opstand kom. Ons wil eintlik begin twyfel in God se bestaan, want volgens ons sien ons Hom nie. Dis net ’n gepraat en gepreek maar in werklikheid kan ons nie diep uit ons maag van vreugde lag nie. Die liefde wat ons ervaar is plastic en mooi dinge bly maar soek.
Dalk moet ons die oorsaak vir die afwesigheid van al die goeie dinge nie te ver gaan soek nie. Dalk moet ons dit nie eers buite onsself gaan soek nie! Nee, dalk is ons tot ’n groot mate self verantwoordelik vir die chaos waarin ons lewe.
Dit wil lyk asof liefde, vrede, blydskap en eensgesindheid spin offs is van die manier hoe ons die lewe leef. As ons die lewe leef soos ons wil en ons eie reëls toepas, is die kans goed dat ons nie liefde, vrede en blydskap gaan raakloop nie.
Op ons eie het ons net nie die vermoë om die volle prentjie te sien nie. Ons besef nie wat die impak van ons optrede vandag op môre gaan hê nie. Ons het hulp nodig. Ons het vir God nodig. Daarom die voorstel, nee, eintlik opdrag van Paulus: 11… Lewe presies net soos God vir julle sê.
Doen die regte ding. Gaan raak stil. Luister hoe God deur Paulus met jou praat. Dan sal jy liefde ervaar. Lewe soos God wil hê, dan sal jy blydskap ervaar en lag. Om binne die wil van God te leef, maak dat ons aanmekaar gebind word. Dan sal ons ook eensgesind wees.En dan sal daar vrede wees.
Dis ’n belofte van God. Die sleutel van jou lewe is in jou hand. Net jy kan besluit hoe jy die lewe wil leef. Maar as ek ook iets kan sê: Neem die woorde van Paulus vandag ernstig op en doen presies soos God vir jou sê. Jou lewe sal anders wees.
Teks
Om oor na te dink
Maak jy tyd om na God te luister?
Hoor jy sy stem?
Doen jy sy wil vir jou lewe?
Gebed
Vader, U Woord leer my hoe om te leef. Ek wil graag U raad en wysheid volg sodat my lewe in lyn kan kom met U wil vir my. Amen