Life is difficult
Scott Peck se eerste paragraaf van sy boek, The Road less Travelled, is die volgende: Life is difficult. Ek vermoed die meeste van ons kan bladsye vol, sommige boeke vol, skryf om die Life is difficult in ons lewe te beskryf.
Wanneer jy opdaag en inskryf by die Christendom, wanneer jy Jesus kies as jou Verlosser, is dit deel van die pakkie. Dis deel van die meublement. Hier dra almal die t-shirt: Life is difficult.
Ons het ongelukkig nie die keuse om die swaar wat deel is van die pakkie uit te haal nie. As ons net eendag die voordeur oopmaak, staan die moeilikheid daar.
12My liewe vriende, as dit so swaar met julle gaan dat julle dit byna nie meer kan hou nie, moenie sommer daaruit aflei dat julle godsdiens daarmee heen is nie. Christene moet ook swaarkry.
Wanneer ’n mens so swaarkry dat jou bene begin voel of dit onder jou wil ingee, wanneer die pyn ondraagbaar word, wanneer die alleenheid so sonder ’n maat net heeltemal te erg raak, stap twyfel mos maklik in.
Jy sê daar is ’n liefdevolle God, waar is Hy nou? Het jy gesien hoe lekker leef daardie mense wat hulle glad nie steur aan God se dinge nie? Jy blaf dalk nie teen die verkeerde boom nie? Is jy nie vir ’n pop gevat nie?
Ons moet egter besef dat, omdat ons vir God en Jesus gekies het, omdat ons toegelaat het dat die Heilige Gees Sy intrek in ons lewens geneem het, word ons nie ’n binnebaan gewaarborg nie. Inteendeel. As jy jouself uitgee vir ’n toffie, gaan iemand jou êrens kou.
Elke sport het sy beserings, sê die mense. Nou ja, die beserings wat ons wat Christene al te gereeld opdoen terwyl ons in die wêreld opstaan vir ander, is swaarkry. Ons sit met gebyte hande waar ons kos gee.
Ons word in ’n hoek gedryf, net omdat ander nie hou van ons eerlike manier van die lewe loop nie. Omdat ons opgestaan het vir die onreg, word ons plat geduik en sukkel ons gebreekte bene om weer gesond te word.
Life is vir seker difficult vir ons wat vir Jesus gekies het om ons Verlosser te wees.
Wanneer ons dit besef, kan ons ons daarvoor staal. Ons kan voorbereid wees as die swaar by die voordeur opdaag. Wanneer ons weet dat daar ’n moegoe is wat dit vir ons moeilik gaan maak, kan ons seker maak dat ons die regte wapens het om hom te keer en terug te dryf na die plek waar hy hoort.
En ons weet ook sometimes you need a breakdown to get a breakthrough. God gebruik hierdie swaar wat ons in die lewe kom plat duik om ons te vorm en ons te laat groei. Dit maak ons sterker en ons kry perspektief. Baie keer gryp ons God stywer vas en trek Hy ons nader.
Vir seker is life difficult. Maar daarop is ons voorbereid en ons sal dit met alles in ons aanvat en met die hulp van die Heilige Gees veel sterker aan die anderkant uitkom!
Teks
1 Petrus 4:12-19
Om oor na te dink
Waar trek jy swaar?
Is daar iets wat jy daaraan kan doen?
Hoe kan dit in ’n positief verander word?
Gebed
Vader, ek kry swaar en ek sukkel. U sal moet help, want anders gaan ek dit nie maak nie. Ek pleit in Jesus se Naam. Amen.