God se Woord in vandag se woorde

Lomp of nie lomp nie


Ons kamp saam met vriende onder die bome en dis rustig. Hulle kleinkinders is ook daar. Goeie opgevoede kinders met goeie maniere en dis ’n plesier om hulle dop te hou.  

Sussie is vyf jaar oud en Boetie is twee. Ek wou sê hulle is soos vinkel en koljander, maar dis nie die korrekte spreekwoord nie, want Sussie doen soos sy goeddink en Boetie aap haar na. “Hy is haar skaduwee,” is eintlik ’n perfekte spreekwoord. 

As sy iets sê, herhaal Boetie dit presies so. Dis amper soos ’n eggo. As sy hop, skip en jump, doen hy dit ook, en dan lag ek in my mou, want hy is nog nie so vlugvoetig nie. Inteendeel! Hy is maar nog erg lomperig. 

Eintlik moet ons doen soos Boetie doen. Ons moet soos Jesus doen. Soos Jesus hier op aarde gelewe het, só moet ons lewe. Ons moet soos Boetie vir Sussie gena-aap het, ook vir Jesus na-aap. 

Dis nie ek wat so sê nie, dis die Bybel wat so sê: 3… Wel, maak dan Jesus se optrede die patroon van jou lewe: soos sy lewe skoon en sonder foute was, so moet joune ook wees. 

As ek dan hierdie vers lees, sien ek weer hoe Boetie so nou en dan lomp struikel. Nee, ek sien eintlik iets veel erger. Ek sien ’n olifant wat wil dans soos ’n ballerina. Ook maar erg lomp.  

Wanneer ek probeer om nie verkeerde dinge te doen nie en wanneer ek skoon wil lewe, glip ek en val in die modder. Wanneer iemand iets doen wat my nie heeltemal geval nie, trek my tong lomp los en dinge word gesê wat maar kon gebly het.  

Wanneer ’n taxi voor my indruk, probeer ek die ruimte so klein as moontlik hou om hom uit te hou, maar helaas is hy nie bang om sy vrot gestampte taxi voor my bakkie in te wurm nie. Ek moet bes gee en die meegaande gebare spreek boekdele – verkeerde boekdele. Klomp lomp gebare. 

Ek wonder wat sou Jesus gesê as iemand iets doen wat hom nie geval het nie? Wel, vir seker sou dit nie ’n lomp tong gewees het nie. Ek wonder watter gebare sou Jesus gebruik het as iemand voor Hom ingedruk het? Wel, vir seker sou dit nie lomp gebare gewees het nie.  

Hierdie is nie nuwe nuus nie. Ons almal ken die bandjies WWJD: What would Jesus do? Ons weet ons moet loop soos Jesus geloop het op aarde. Ons moet Sy manier van doen, doen. 

Dalk moet ons eerlik wees met mekaar en erken dat ons sukkel hiermee. Ek vermoed ons het ’n te groot klap weg daar in die tuin van Eden saam met Adam en Eva. 

Dis nie ’n verskoning nie en ons moenie, by wyse van spreke, ongeroer sit en toekyk hoe God se water oor God se akker stort nie. Ons moet iets doen. Ons moet keer dat ons nie net aanhou om in die slaggat te trap en ons eie verkeerde maniere elke keer naboots nie.  

Ja, laat ons soos Boetie vir Sussie naboots en alles soos sy doen, doen. Laat ons vir Jesus naboots en doen soos Hy gedoen het, al is ons lomp, al lyk ons soos olifante. Laat ons net doen soos Jesus gedoen het. Die wêreld sal dan anders lyk! 

Teks
1 Johannes 3:1-3 

Om oor na te dink
Waar trap jy nog in die slaggat?
Waar moet jy anders doen?
Waar moet jy ’n verskil aan ander gaan doen, soos Jesus? 

Gebed
Jesus, dankie vir die voorbeeld. Ek weet ek moet anders lewe. Help my om soos U te doen, al is dit soms lomp. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek