God se Woord in vandag se woorde

Maak die honne los


Ek stap vroeg een oggend per week saam met ’n tjommie. Hy sê hy wonder wat sy gawe is. Ek sê ek weet wat myne is. Dis skryf. Ek het nog nooit ’n skryfkursus van ’n dag oud bygewoon nie. Ek skryf sommer net. As ek gaan sit, wonder ek nie waar die ontknopingspunt moet wees nie. Ek weet nie eens lekker wat dit is nie. Ek skryf net. Hier êrens gedurende die skryf, pop die opskrif op en as ek weer sien, is ek klaar.

Dis ’n gawe.

Toe ek stil word, word ek oorval met die gedagte dat die gawe wat ek van God ontvang het, nie lekker werk as die Heilige Gees nie ook betrek word nie. Dis nie ek wat so goed is nie, maar die Heilige Gees wat deur my werk. Omdat die Heilige Gees werk, het my gawe krag en kan Jesus dit gebruik om mense te verander.

God verdien dus al die eer wat gegee word wanneer ‘n skryfstuk deur Hom gebruik word om iemand se lewe te verander. Ek dink dit maak God se hart bly as ons hande vat met die Heilige Gees en doen wat Hy vir ons lewe in die oog het. Hy geniet dit as ons die prentjie uitleef wat Hy al voor ons bestaan in die oog gehad het.

Dit is dan presies waarvoor Paulus vir die mense van Tessalonika bid: 11… Ek bid dat Hy deur sy krag in julle sal werk sodat dit vir julle al hoe lekkerder word om daardie dinge te doen wat Sy hart blymaak. Mag Hy heeltemal tevrede wees met die manier waarop julle elke dag julle geloof uitleef.

Ek vermoed ons het ’n keuse of ons die kraan van God se krag in ons lewe wil oopdraai. Daar loop baie mense rond wat eenvoudig weier om te erken dat hulle niks van waarde uit hulle eie krag kan voortbring nie. Ek is nou weer terug by daardie eenvoudige voorbeeld van die motor wat mense van punt A na punt B stoot in plaas daarvan om die sleutel te draai sodat die enjin die werk kan doen.

Hoe traag kan ons soms wees om agter te kom ons sit sonder krag – ons is wel ingeprop by die plug, maar ons skakel dit nie aan nie. God gee aan ons elkeen spesifieke gawes volgens Sy goeddunke. Hy voorsien selfs die krag, Sy Heilige Gees. Ons moet Hom net aanskakel, of anders gestel, toelaat om Sy werk deur ons te doen.

Weet jy hoe lekker is dit om God se dinge te doen? Dit gee jou energie. Jou gemoed is altyd bo die weer. Niks kan jou omstoot nie, want God se Gees werk deur jou en waar Sy krag loop, gebeur dinge op ‘n ander vlak en met ‘n ander intensiteit. Maar meer nog is die tevrede glimlag op God se gesig wanneer Sy prentjie wat Hy van ons gehad het, begin vorm aanneem.

Ai, ek weet ek sukkel steeds om God se prentjie van my te laat waar word in die lewe daar buite. Die kleinste hobbel op my pad krap my om. As dinge nie loop soos wat ek gedink het dit moet nie, staan ek met armpies in die sye en my mond vol vraagtekens. Ek vermoed dis omdat ons alles op ons eie krag probeer aanpak.

Maar dis te min. Dit gaan nie werk nie. Ons sal aanhou om niks rond te stoot, moeg by die huis inval met geen impak nie.

Kom ons laat toe dat Sy Gees se krag deur ons vloei. Kom ons maak die honne los. Dit sal vir ons só lekker wees … en God? Hy sal oor die maan spring!

Teks

2 Tessalonisense 1:11-12

Dink bietjie hieroor

Is jy ingeprop by die Kragbron?

Is jy besig met God se prentjie van jou?

Glimlag God oor jou?

Gebed

Here, ek het so bietjie werk hier. My dade is nie altyd so vol krag soos wat U in gedagte gehad het nie. Ek het U versterkings nodig. Ek wil met alles in my U prentjie lewe gee. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek