God se Woord in vandag se woorde

Maak goed met kennis


Alle mense het een of ander flaw. Dalk raak jy gou kwaad. Dalk is jy te vinnig uit die blokke. Dalk het jy ’n oog wat dwaal en verkeerde kant toe kyk. Dalk doen jy wat jy nie moet doen nie of dalk doen jy nie wat jy moet nie.

Êrens het ons almal ’n klap van die windmeul weg en trap ons oor die grens. Sommige val per ongeluk daaroor, ander kies weer om gereeld of so veel as moontlik aan die ander kant te speel.

Wanneer Jakobus hieroor praat, sluit hy homself in. 2Ons almal maak foute en sê verkeerde dinge. As iemand nooit ’n skewe woord sê nie, is hy volmaak. En ons weet daar is geen volmaakte mense nie.

As daar volmaakte mense was, was dit mos nie nodig dat Jesus aan ’n kruis gesterf het vir hulle sondes nie. Hulle het dan geen sondes nie. Dan kon hulle werke sommer vir hulle ’n plekkie in die hemel verdien het. Daai somme maak nie sin nie en ongelukkig is en was daar nog nooit iemand op hierdie aarde wat vir die posisie gekwalifiseer het nie.

Ons almal is sondig. Dankie tog dat dit nou uit is, want nou hoef ek nie meer so koponderstebo te loop nie. Selfs die mense na wie ek so opkyk, maak ook foute en op ’n manier wil ek vir jou sê: Dis fine. Niemand is perfek nie en die wete maak my rustig, want partymaal kan my skuldgevoelens my teen die mure uitdryf.

Met hierdie wete in die sak, kan ek nou twee dinge doen. Ek kan ’n houding inneem van so gemaak en so gelaat staan en elke keer as ek mistrap, verskoning vra en net aanhol. Ek dink nie dis die regte afdraai om te neem nie.

Nee, ons moet eerder toelaat dat hierdie wete ons help om volgende keer beter bestand te wees om so te keer dat ons nie oor die grense foeter nie. Ja, ons moet weet ons gaan foute maak, dis menslik. Daarom moet ons ons staal vir moontlike misstappe en ons daarvoor voorberei.

As ek weet my bloed kook gou, moet ek seker maak dat daar altyd ’n verkoeler naby is. As ek weet dat my tong baie vinnig uit die blokke is en mense kan seermaak, moet ek ’n wag net duskant sit om te keer dat iets uitglip.

As ek weet dat my oë maklik sy kierie vat en ronddwaal en dinge kyk wat ek weet nie reg is nie, moet ek seker maak dat ek nie in situasies kom waar my oë kan kyk wat hulle wil nie.

Sir Francis Bacon het in sy skrywe van 1597, Meditationes Sacrae, reeds gesê dat kennis mag is. As jy jouself ken en weet waar jou flaw is, kan jy jouself daarteen staal. Jy kan jouself voorberei en seker maak dat die skuiwergat, daar waar jy in die gaatjie trap en neerslaan, gou toegemaak word, sodat jy nie weer daarin val nie.

Gebruik die kennis, nie as ’n rede om weer te glip nie, maar eerder om te sorg dat daar nie weer fout kom nie.

Teks
Jakobus 3:1-12

Om oor na te dink
Hoe lyk jou foute?
Het jy vrede daarmee?
Het jy planne om nie weer in die gate te trap nie?

Gebed
Vader, soms voel ek so skuldig oor my misstappe. Help my om elkeen van my flaws uit te ken en ‘n plan te maak dat ek nie in die gate trap nie. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek