Maak planne om skoon te kom
Ek hou van krap aan stukkende goeters. Soms is ek nie so suksesvol nie. En ja, soms kry ek die stukkende masjien aan die loop, met nog ’n paar ekstra parte op die koop toe. Dit is baie bevredigend.
Gewoonlik is my hande en die res van my parte pikswart van die ou olie en ghries wat deur die jare op die masjien saamgepak het. Dis vir seker geen maklike taak om dit dan weer skoon te kry nie, vra maar my vrou.
Ek het al baie verskillende produkte probeer. Duur produkte en goedkoop produkte. Daardie met sandkorrels in en ander wat jou hande vir dae na paraffien laat ruik. Maar hier is goeie raad as jy dalk ook eendag met pikswart hande staan.
Gewone Sunlight Liquid doen die skoonmaakwerk in ’n japtrap. Ek gooi so bietjie meer as wat my vrou sou wou gehad het op my hande en sorg dat al die swart goed gesmeer is. Dan kom al die vuil met skoon water af. Neem dan ’n skoon droë lappie om die taaiheid van die seep af te vee.
Sommige produkte werk darem net goed. Keer op keer.
Ons almal sit ook met ’n ander vuilheid – die verkeerde dinge wat ons doen. Ja, ons weet Jesus het vir die straf van ons sondes gesterf en ons hoef nie meer die gevolge van ons verkeerde dade te dra nie. Dank God daarvoor!
Dit beteken egter nie dat ons nou maar met die vuilheid in ons lewe kan aangaan nie. Nee, ons moet ’n daadwerklike iets doen om dit uit te was. Ons moet die regte produk kry om dit te doen.
Soos Sunlight ons swart hande skoonmaak, so maak die gehoorsaamheid aan die waarheid ons lewe skoon. Wanneer ons seker maak dat die waarheid deel van ons fondasie is, sal dit makliker wees om nie deur vuilheid besmet te word nie.
22Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het…
Die waarheid is natuurlik die Bybel. Die Bybel leer ons baie mooi van die do’s en die don’ts. Die Woord wys vir ons presies wat ons moet doen en wat ons nie moet doen nie. Daar is regtig nie verskonings om te weet waar ons op die pad is en wanneer ons van die pad af is nie.
Tog het God geweet ons gaan sukkel daarmee. Daarom dat Hy, behalwe vir Sy Woord, ook vir ons ’n Helper gegee het. Die Heilige Gees is aangestel om ons te help om God se Woord vir ons oop te breek, sodat ons kan verstaan hoe ons moet lewe.
Ons is in sonde gebore. Ons weet ons default trek skeef en die dinge wat ons wil doen, maak ons vuil. Ons moet aktief begin om van die vuilheid ontslae te raak. Ons moet planne maak, ons moet skoonmaakmiddels kry.
Daarom moet ons na die Woord van God gaan. Dit gedurig, daagliks bestudeer en toelaat dat die Heilige Gees in ons harte spreek om só ontslae te raak van die vullis. Dan sal ons skoon staan voor God en sal ons Sy wil kan doen hier op aarde.
Teks
1 Petrus 1:22-25
Om oor na te dink
Waar is daar nog vullis in jou lewe te bespeur?
Lees jy genoeg God se Woord om te sien waar jy op die verkeerde pad dwaal?
Hoor jy die Heilige Gees se aanwysings?
Gebed
Vader, ek weet ek het nog baie vullis in my lewe. Ek wil graag skoon kom. Maak my asseblief gewillig om U Woord te lees en te luister na U Gees se aanwysings. Ek vra dit in die Naam van Jesus, wat die straf vir my sondes op Hom geneem het. Amen.