Maak plek vir God
2 Samuel 6:11 Die ark van die Here het vir drie maande in Obed-Edom se huis gestaan. Die Here was baie goed vir Obed-Edom en sy hele familie.
Dawid reël dat die ark, die sigbare teken van God se teenwoordigheid, na Jerusalem toe terugkom. Maar hulle maak ʼn fout. In plaas daarvan dat die Leviete dit dra, soos die opdrag was, word dit op ʼn wa vervoer. Toe die osse struikel, gryp Ussa daarna om te keer dat dit val. Net daar sterf hy.
Toe Dawid dit sien, trek hy klein koppie en rangeer die ark in ʼn ander rigting, na die huis van Obed-Edom. Obed-Edom het nie soos die ander die ark gevrees nie. Hy het plek daarvoor gemaak en dit met die nodige eerbied ontvang.
En die netto effek? Hy en sy gesin word uit hul sokkies geseën.
ʼn Man se besigheid staan voor bankrot se deur. Hy stop onder ʼn jakarandaboom en belowe vir God dat as hy die kontrak kry wat sy besigheid kan red, hy 30% van sy besigheid vir God sal gee. God het gehoor en geseën.
Vandag behoort 70% van die besigheid aan ‘n trust wat al duisende mense en organisasies gehelp het. Mense is gered. Kinders is kos gegee. Hulle het selfs ons bediening aan jongmense, Roadtrip247, finansieel gehelp om op die been te kom.
Waar sommige mense net swaar sien, sien ander lig en word geseën. Ja, soms kyk ons ook vas in die donker wolke op die horison. Ons raak bang en rangeer dinge na verkeerde plekke toe, en dan mis ons uit op die seën van die Here.
Ja, ek weet ʼn mens doen nie dinge vir die seën nie. ‘n Mens doen dit uit eerbied vir God. Maar waar ʼn mens plek maak vir God se teenwoordigheid, kom trek God lock, stock and barrel in. Hy bring alles saam. Ook Sy seën.
Dis veral in donker tye dat ʼn mens God se teenwoordigheid tasbaar ervaar. Laat ons daarom altyd ruimte maak vir God in ons lewe. Die res sal vanself kom. Probeer dit net.
Gebed
Vader, ek verlang na U. Ek het ʼn kol op my maag, omdat ek weet ek maak nie genoeg ruimte vir U nie. Kom in. Kom in my lewe …
Vrae
Is daar regtig plek vir God in my daaglikse lewe, of net wanneer ek Hom nodig het?
Watter dinge neem tans meer van my tyd en aandag as my verhouding met God?
As iemand na my lewe kyk, sal hulle kan sien dat God daar woon?
Doen dit nou
Sit vandag doelbewus 15 minute opsy net vir God. Sit jou selfoon eenkant, lees ’n gedeelte uit die Bybel en praat met Hom.
Kyk daarna deur jou dagboek of kalender vir die komende week en blokkeer sommer nou ’n vaste tyd elke dag vir jou stiltetyd met God.
Vra dan vir jouself: “As God vandag by my huis sou kom woon, wat sal ek verander om vir Hom meer ruimte te maak?” Kies een praktiese ding en doen dit vandag.