God se Woord in vandag se woorde

Maak vuur onder mekaar


Een van my leuses in die lewe is: As ’n mens werklik verstaan wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het, kan ons mos nie anders as om, uit dankbaarheid, ’n verskil in ander mense se lewens te gaan maak nie.

Ek kry ’n kykie in, kom ons sê maar Hannetjie se lewe. Sy wil eintlik nie hê ek moet die storie vertel nie, want dit gaan nie eintlik oor haar nie, daarom die skuilnaam:

Ons het ’n projek staangemaak wat vyf gesinne in ons gemeente ondersteun. Met die aanbreek van Covid, het dit uitgebrei na 43 gesinne wat ons aan en af help, ook oor ons gemeentegrense.

Ek self is net ’n doodgewone middelklas-vrou wat besef hoe geseënd ek is.

Alles wat ons vir die mense doen, is uit skenkings wat ons ontvang. Maar met dit saam, het ander goed opgepop. ’n Paar haweloses het ook oor my pad gekom. Hulle is eintlik boemelaars. En so begin ek hulle met Woord bedien en begin ek hulle beter leer ken.

Wat ’n pragtige klomp mense met die mooiste harte! Die lewe het hulle geklap dat hulle gaan lê het en opgegee het. Ja, hulle is vuil en stink en ruik soms na drank. Dra vir dae dieselfde klere.

Maar ek gee nie om nie. Ek sit by hulle en luister na hulle harte.

As ek daar wegstap, sê hulle dat hulle weer moed en krag het om aan te gaan. Daarvoor eer ek ons Vader. In my oë doen ek niks om hulle omstandighede te verander nie, maar my kuiertjie van ’n uur beteken die wêreld vir hulle. En die kospakkie is darem kos vir ’n dag of twee – ’n ietsie in die maag.

Ek is so opgewonde, want ‘n paar vrouens wat saam met my in die gemeente is, klim nou saam met my in om die mense te help.

Ek glo met my hele hart God sal werk deur die drank en daggawalms deur!

Hannetjie se dankbaarheid loop oor in doen. Sy kan haarself nie keer om dit wat Jesus vir haar gegee het, aan te gee en uit te deel na die mense om haar nie. En ek besef dat ons roeping nie net is om vir ander goed te doen nie. Ons moet ook medegelowiges aanhits en opgewonde maak om self na ander uit te reik.

24Laat ons gedurig maniere soek om mekaar opgewonde te maak om goeie dinge vir mekaar te doen en lojaal teenoor mekaar te wees.

Kom ons probeer ook soos Hannetjie wees. Kom ons doen ook goed en terselfdertyd moet ons ander lus maak, opgewonde maak om saam met ons te gaan om ’n verskil in ander mense se lewens te maak.

Teks
Hebreërs 10:19-25

Om oor na te dink
Reik jy na ander uit?
Wil ander uitreik omdat jy uitreik?
Waar kan jy ander mobiliseer?

Gebed
Vader, dankie vir die voorreg wat ek het om ander te dien. Help my om die mense rondom my se hande te neem, sodat hulle uit dankbaarheid ook ander kan bedien. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek