God se Woord in vandag se woorde

Met ’n oop hand en oë wat traan


Ek en ’n vriend sit op die stoep en gesels oor gee. Ons begin by mense wat moeilik gee en eindig by ’n klomp stories van mense wat nie kan ophou gee nie. Ek wonder sommer hardop of mense wat maklik gee gelukkiger mense is. Toe hy loop, som hy die aand se gesprek met ’n baie eenvoudige beeld op. Hy maak sy hand toe en sê: Wanneer ’n mens se hand toe is, is daar nie lekker plek vir God om seëninge neer te sit nie. Hy maak sy hand stadig oop en hy hoef dit eintlik nie te sê nie, want ek sien hoe baie plek daar vir God is om seëninge neer te plak vir die wie se hand oop is en gedurig gee.

Dis die prentjie wat ek van die Masedoniërs gekry het. Hulle hande was oop. Hulle kon hulleself nie keer om te gee nie. Hulle het by Paulus aangedring om vir die Christene wat so swaarkry in Judea, te help. Dit alles terwyl hulleself omtrent niks het nie: 2… Hulle is ook verskriklik arm. Dit het egter nie gekeer dat hulle sommer ’n groot bedrag geld gegee het vir die kollekte wat ek op die oomblik vir die arm Christene in Judea insamel nie. 3Ek het met my eie oë gesien dat hulle soveel gegee het as wat hulle kon. Nee, hulle het baie meer gegee as wat hulle kon bekostig. Daardie Christene van Masedonië het my omtrent gesmeek om deel te kon hê aan hierdie hulpprojek.4Hulle was so bekommerd oor die gelowiges in Judea dat hulle met alle mag en mening by hierdie geldinsameling betrokke wou raak.

Hierdie ouens is nie aangevuur om te gee uit hulle oorvloed nie. Hulle het ook nie gesê: “Om te gee is eintlik die regte ding om te doen, maar kom ons kyk eers hoeveel het ons oor aan die einde van die maand” nie. Hulle het nie in gesprekke betrokke geraak oor hoeveel persent is 10 persent nie. Hulle het nie gewonder of die tiende waarvan die Bybel praat ’n presiese bedrag of beeldspraak is nie. Nog minder het hulle ge-worry of dit voor of na tax is.

Jy sien, hulle het dit van die ander kant af gekyk. Hulle het éérs die nood raakgesien. Toe was die vraag anders. Die vraag was nie: “Wat hét ek?” nie, maar eerder: “Wat kan ek gee?” Die gate van die nood is raakgesien. Dit wat benodig word, bepaal wat gegee moet word. Sien jy dat hulle nie by hulle eie hulpmiddele of dit wat hulle beskikbaar het, begin het nie. Ek dink as hulle hier begin het, sou hulle gesê het dat hulleself nie eens genoeg het nie, hoe kan hulle dan vir ander gee.

Wanneer jy egter toelaat dat die nood van die ander persoon dit wat jy gee, bepaal, gebeur daar wonderwerke. Jy gee méér weg as wat jy het.

Daar word die storie vertel van die predikant wat by ’n boer kom en hom vra dat as hy 10 plase het, of die boer een plaas vir die Here sal gee. Die boer sê hy sal vir seker een plaas vir die Here gee. Die predikant vra hom toe as hy 10 trekkers het, sal hy een vir die Here se werk weggee? Vir seker sal hy ’n trekker gee! sê die boer. Die predikant vra hom toe as hy 10 skape het, sal hy een vir die Here se Koninkryk hier op aarde gee. Nee, sê die boer. Die predikant vra verbaas hoekom hy dan ’n plaas en ’n trekker sal gee, maar hy is nie bereid om een ou skapie te gee nie. Die boer antwoord: Want ek hét 10 skape…

Eina!

Dis maklik om stories te hoor en om te glo dat dit goed is om te gee, maar dis nie so maklik om jou hand oop te hou en van jou swaar verdiende geld weg te gee nie. Nog minder is dit my taak om jou te oortuig. Dis ’n saak tussen jou en God. Ek vermoed net dat ons meer moet maak soos die ouens van Masedonië. ’n Vriend van my daar in Windhoek sê altyd jy moet gee tot jou oë traan. Ja, dalk moet ons die toe hand van ons oopmaak. Eintlik wil ek vir jou waarborg: Jou mond sal oophang om te sien wat God alles daarop pak.

2 Korintiërs 8:1-6

Om oor na te dink

Hoe oop is jou hand?

Het jy al die seën van die Here ervaar?

Waar moet/kan jy gee?

 

Gebed

Vader, dankie vir die boodskap. Ek moet bely dat my hand nie oop genoeg is nie. Wys my waar ek moet gee. Help my dat die dikte van my beursie nie sal bepaal hoeveel ek gee nie, maar eerder die ander se behoefte. Help my om sensitief te wees vir U stem. Amen

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek