God se Woord in vandag se woorde

Modder en miswater


Ek staan nogal erg verwonderd oor die nuwe wasmasjiene wat met min water geruisloos ons wasgoed was. Ek wonder gereeld of die masjien weer al die vuil werks- en sportklere gaan skoonkry. Om nie eers te praat van my vuil werksklere na Saterdae se gewoel in die tuin nie. 

As ek dan op ’n volgende rondte by die wasgoedlyn verbystap, staan ek verwonderd oor hoe die masjien die klere so skoon gekry het. Dit lyk amper asof dit splinternuut is. Water en seep is darem ’n gedugte span. 

In Noag se dae was water die teken van lewe en dood. Die mense wat nie vir Noag geluister het nie en hulle nie voorberei het vir die oorstromings nie, is deur die water gedood. Dié wat saam met hom in die ark was, het oorleef. 

By die doop is die water ook ’n teken van lewe en dood. Let wel: die water was nie ons sondes af nie, maar dis ’n teken van wat geestelik met jou gebeur. Petrus verduidelik dit so mooi vir ons: 

21Hierdie dinge is eintlik vir ons ’n voorbeeld van wat op geestelike gebied by die doop gebeur. Daar skei die paaie van die mense wat gered word en dié wat nie gered word nie. Dit gaan nie oor vuilgoed wat die water van jou liggaam afwas nie. Dit gaan eerder oor dit wat binne-in jou gebeur. Dit gaan daaroor dat jy God opreg vra om alles weg te vat wat jou skuldig laat voel. Dit is moontlik omdat Jesus uit die graf opgestaan het en leef. 

Dis so jammer dat baie mense nie die keuse maak nie. Soveel mense gee nie om vir die vuil waarin hulle lewe nie. Dit skeel hulle min. Amper soos varke wat in modder en miswater heel gelukkig lewe.  

Varke weet nie dat hulle in modder en mis lewe nie, daarom dat dit hulle min skeel. Net so skeel dit die mense wat nie vir God kies nie, min dat hulle in die donker lewe. Hulle is tevrede daarmee en soek nie eers die lig nie.  

Gelukkig het die Heilige Gees ons gehelp om te sien dat daar ’n veel beter lewe is. Maar eers moes ons tot die besef kom dat die modder en miswater nie vir ons is nie. Ons moes dit voor God bely en vra dat Hy ons sal help om daaruit te klim. 

Modder en miswater het egter die gewoonte om elke keer te probeer terugloop in die holte wat daar oop lê. Het jy al probeer om ’n dammetjie met ’n blikkie leeg te skep? As jy die water nie vêr genoeg wegskiet nie, loop dit rustig weer terug in die dammetjie en dan moet jy maar weer skep. 

Ons moet besef dat sonde keer op keer weer sy lêplek in ons lewe wil kom maak. Dis die wêreldse dinge wat ons tempteer en kort-kort wonder ons of dit nie lekkerder is om daardie dinge weer te probeer nie. 

Hierdie is ’n realiteit in elke Christen se lewe. Keer op keer moet ons met die vuil emmer modder en miswater by God uitkom en ons sondes bely. God sal ons dit vergewe en ons weer skoon was.  

Die vraag is net: Wat kan ek en jy doen om seker te maak dat ons die modder en miswater ver genoeg wegskiet dat dit nie weer suutjies terugsypel nie? 

Teks
1 Petrus 3:18-22 

Om oor na te dink
Watter modder en miswater is daar by jou?
Wanneer neem jy dit na God?
Hoe kan jy keer dat dit terugloop? 

Gebed
Vader, hier is my sakkie modder en miswater. Maak my skoon en help my om die modder en miswater nie weer in my lewe toe te laat nie. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.  

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek