Modder in die water
Op die plaas het daar gereeld ’n pyp gebars en dit was uitgebreide proses om dit weer te herstel. Eers moes die groot pomp by die dam afgeskakel word, want die water borrel uit die grond uit en loop in strome teen die pad af.
Dan moes die grawe uitgehaal word. Versigtig word daar gegrawe, sodat die gedeelte van die pyp wat nog heel is, nie verder beskadig word nie. Wanneer die pyp uiteindelik bereik word, word dit met lappe skoongemaak.
Nou word die gedeelte wat gebars het, uitgesny. Die punte word drooggemaak, skoongemaak, geskuur en dan met ’n groot geswoeg, word die nuwe hegstuk met twee laste met gom gesmeer en ingedruk.
Na ’n uur of so kan die pomp weer aangeskakel word. Maar die water in die pyp moet eers by die heel onderste kraan uitgelaat word. Die water het met die gewerskaf so vuil geraak van al die modder, dat dit nie net onbruikbaar geword het nie, maar ook skade aan die besproeiingstoerusting sal veroorsaak.
Eers as al die water en al die gemors uit die pype is, kan dit weer gebruik word vir die besproeiing van die landerye.
Op ’n manier het sonde dieselfde effek in ons lewe. Aan die begin, met ’n klein sondetjie, merk ’n mens nie eintlik die verskil op nie, maar hoe meer ons die sonde in ons lewe toelaat, hoe vuiler en minder bruikbaar word ons.
As ons toelaat dat ons tong nie lekker praat nie, vertroebel ons ons verhouding met die mense om ons. Wanneer ons dan net ons mond oopmaak, begin mense te koes. Hulle probeer om ons te vermy – ek vermoed dit is uit selfbeskerming. Die een met die tong word al hoe meer afgesny, totdat hy of sy alleen op die kant van die lewe sit. Die water te vuil om te gebruik.
Daarom moet ons almal gehoor gee aan hierdie opdrag: 21Raak daarom ontslae van elke stukkie gemors en vuilheid wat jou geestelike lewe mag toegroei of bederf.
Hierdie oorvloeiende straal van verkeerde dinge, hierdie oorloop kwaad, hierdie borrelende sonde wat alles net infekteer en soos ’n kanker versprei en verwoes hoe vêr dit stroom, se kraan moet toegedraai word.
Ons moet doelbewus gaan kyk waar die ongenooide gaste hul lêplek kom maak het. Vra jou geliefdes, vra die mense wat saam met jou werk of vir jou werk. Vra vir die mense wat saam met jou in die lewe skouers skuur, waar hulle moet koes. Vra hulle waar hulle kan sien dat die water vuil word.
Soek die plek waar die lekplek in die pyp is en die vuil water insypel. Onthou, ’n pyp bars altyd op die swakste plek. Soek daardie swak plek in jou mondering en sny dit alles uit.
Mag helder water uit ons loop en mag ons so die dorstige mense om ons se dors vir die Evangelie les.
Teks
Jakobus 1:19-27
Om oor na te dink
Waar lek jou pyp?
Hoe kan jy die vuil in jou lewe raaksien?
Hoe kan jy ontslae raak van al die vuil in jou lewe?
Gebed
Here, ek weet daar is gate in my lewe waar ek die vuil dinge toelaat. Ek weet daar is plekke waar dit verwoesting saai. Help my om dit raak te sien en uit my lewe te verwyder, sodat ek skoon water kan gee vir die mense om my. In Jesus se Naam. Amen.