God se Woord in vandag se woorde

Moenie brom-brom gee nie


Sommige mense kan nie sommer net gee nie. Sommige mense is so besig met hul eie lewe dat gee en ander help nie deel is van hulle prentjie nie. Ja, daar is mense wat net vir hulself leef en bloed uit ander sal tap.  

Gelukkig is ons darem nie so nie. Ons verstaan wat ons ontvang het. Ons besef die geskenk wat ons van Jesus ontvang het om ewig te lewe en daarom word ons beweeg om ook goed te doen aan ander. 

Ek kan getuig van mense wat al vir my klippe uit die pad gerol het. Ek staan baie keer verwonderd hoe mense hulle tyd en energie gee om dinge wat vir my net te groot is, namens my te doen. 

Dit motiveer en mobiliseer my en ek begin dan ook plekkies soek waar ek ’n verskil in ander se lewens kan maak. Wanneer ’n mens ander gehelp het, het dit nie net ’n positiewe impak in ander se lewens nie, maar ook in joune. Dit gee goeie dopamien in jou brein af. Dis petrol vir jou glimlag en die lekker in jou lewe. 

’n Vriend van my bou ’n nuwe huis. Hy het besproeiing vir sy tuin nodig. Ek steek my hand op, want ek help graag en ek ken mos van besproeiing – ek het my studies op universiteit daarmee betaal. 

Ons werk hard om al die pype in die grond te kry. Die hoof planteman help sommer as ek nie daar kan wees nie. Toe ons die rekenaartjie opkoppel en die eerste kraan oopmaak, voel almal lekker en ons staan lank stil en kyk na die druppels wat op die nuwe gras en plante neersak.  

Dis lekker om ander te help! En mens voel nog lekkerder as jy besef dat jy die blokkie langs dié opdrag kan af-tick: 9As iemand by jou opdaag en jou hulp nodig het, help hom met ’n glimlag sonder om onderlangs te kla of te brom. 

Maar o gaats, ek sien hier is ’n kinkel in die kabel, want die omstandighede wat hier geskilder word, is nie so rooskleurig nie. Ja, dis maklik om goed te doen as dit ons pas. Dis lekker om ander te help as dit binne ons beplanning pas.  

Maar wanneer dit ’n bietjie te dik gaan vir ’n daalder, wanneer ons so besig is soos ’n mier en nie weet watter kant toe met ons tyd en krag nie, wanneer timing heeltemal uit is, is dit nie so maklik om iemand te help nie.  

Dis juis hier waar ons op ons tande moet byt en ander moet help. Al het ons self nie genoeg nie, moet ons ander help wat honger is. Wanneer ons tyd in die dag heeltemal te min is om ons eie dinge klaar te kry en iemand klop aan die deur om net ’n paar woorde van ontferming te soek, is dit ons verantwoordelikheid om die bus net daar te stop en eers aan daardie persoon aandag te gee.  

Om ’n kind van God te wees, is nie altyd ligte musiek nie. Dit eis ’n pond of meer vleis en tyd en geld en energie en nog meer, ook, of veral, as dit nie geleë is nie. Laat ons dan nie brom-brom help nie, maar laat ons van oor tot oor glimlag. Soms moet ’n mens ’n stuk van jouself gee. En eintlik is dit heel fine, want Jesus het Sy hele lewe gegee.  

Teks
1 Petrus 4:7-11 

Om oor na te dink
Gee jy?
Help jy maklik?
Help jy maklik al is die tyd nie lekker nie? 

Gebed
Vader, ek hou van gee, maar sukkel as dit my nie pas nie. Help my om nie te brom nie, maar met oorgawe te glimlag en te doen. Ek bid in Jesus se Naam. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek