Moenie die bus mis nie
Ek het as student vir Intercape bus gery. Nagte deurgery. Sommer in een vakansie 43 000 km gery. Net met ’n bus. Net in die nag. Maar dit was lekker en die R50 per dag wat ek verdien het, was baie vir ’n student.
Een nag is ek effe agter op skedule. Toe ek daar verby Albertinia ry, gooi ek net so ’n oog om te sien of daar ’n kar staan, maar sien niks nie en ry verby. Toe ek in Mosselbaai stop, stop daar ’n kar agter my en ’n groot man storm op my af.
Net voor hy my iets aandoen of toesnou, kyk ons mekaar so met vraagtekens. Toe besef ons dis my skoolpêl se broer wat sy pa in Albertinia kom aflaai het.
Al wat hy kon uitkry is: “Jis, jy kan darem ’n bus ry. Ek het al die pad probeer om jou in te haal …”
Elke keer as ons mekaar sien, spot ons oor die keer wat hulle pa amper die bus gemis het.
Maar so gepraat van om ’n bus te mis. Sommige mense gaan ’n ander soort bus dalk mis …
28… Christus sal weer kom, maar hierdie keer nie om vir al die verkeerde dinge wat ons doen te kom boet nie. Hy sal dan kom om almal wat vir Hom wag na God toe te neem.
Baie sien uit na Jesus se koms. Baie kan nie wag dat Hy kom nie. Baie wil eintlik nie meer hier op die aarde bly nie, want die pyn is te erg. Daarom dat hulle aanhou bid dat Jesus tog gou moet kom.
Hulle wag vir Jesus se bus.
Sommige mense lag dit egter af. Hulle glo dat die wêreld vir ewig gaan aanhou. Hulle wag nie op Jesus nie.
Hulle gaan vir seker die bus mis.
In watter groep is jy?
Dit laat my nou dink aan die ander busstorie wat ek ken.
’n Seuntjie staan op die hoek en wag vir die bus. ’n Oom kom verby en vra vir die seuntjie hoekom staan hy daar? Die seuntjie sê dat hy vir die bus wag. Die oom sê vir die seuntjie dat hy na die volgende hoek moet stap. Die bus stop daar, nie op hierdie hoek nie.
Die seuntjie sê dat die bus wel daar gaan stop. Die oom sê nee, eers op die volgende hoek. Toe die seuntjie weer sê dat die bus wel op die hoek sal stop, vra die oom hoekom hy so seker van sy saak is.
Die seuntjie antwoord: “Want my pa is die busbestuurder!”
Wanneer Jesus met die bus kom, gaan Hy orals stop waar Sy hemelse Pa se kinders is, maar verby die wat vreemdelinge is, ry …
Teks
Hebreërs 9:23-28
Om oor na te dink
Is jy reg vir die bus?
Is almal om jou reg vir die bus?
Hoe moet jy nou maak?
Gebed
Vader, soms wonder ek of die bus by my gaan stop. Tog moet ek hierdie twyfel opsyskuif, want ek weet ek is U kind, daarom sal Jesus by my stop. Help my om ander te help om ook opgetel te word. Amen.