“Moenie laf wees nie! Jesus is nie hier nie”
Tert vertel van die dag toe hy met ’n eks-boemelaar ontbyt geëet het, Herman pen dit neer:
“Jy sien”, begin die eks-boemelaar, “ek was vir 18 jaar ‘n alkoholis. Agt jaar daarvan lewe ek al op straat. Ek het my werk verloor, my verloofde het my uitgeskop; ek het basies álles verloor. Toe, nou anderdag, staan ek weer daar by die robot by die Village Mall en ek wag en hoop dat iemand my iets sal gee. Baie ietse maak later darem genoeg vir ‘n brood en ‘n bottel.
Daar stop toe ‘n ander ou langs my en hy kyk na my. “Kry my oorkant,” sê hy vir my en ek vang ‘n draffie na die oorkant van die pad toe. Ek verwag toe darem ‘n groterige iets, anders sou hy sommer net ‘n R2 in my hand gestop en weer gery het. Maar in plaas daarvan, bid hierdie ou vir my. Ek is al gewoond daaraan. Maar hierdie ou bid toe nie vir my siel of die drank nie. Hy bid dat die Here my van my depressie sal verlos.”
“Ek sê toe vir die ou hy bid verkeerd. Ek is nie depressed nie. Hy het net geglimlag, vir my ‘n R100-noot gegee en weggery. Ek het dadelik vir my ‘n bottel gaan koop en vir die res van die dag onder ‘n boom gaan lê.
Die volgende oggend was ek nie dadelik lus vir drank nie. Die middag en die aand het gekom en steeds was ek nie lus vir ‘n dop nie. My lus was skoon weg. Heeltemal. Vir die eerste keer in 18 jaar het ek gaan slaap sonder dat ek ‘n dop gehad het.”
“Die volgende oggend was my lus steeds weg. Ek het gedink en gedink en gedink. Oor myself; waar ek nou is; waar ek vandaan kom; waarheen ek oppad is. En veral oor God. En jy weet, mense sê wonderwerke gebeur nie meer nie, maar ek glo dat die gebed van die vorige dag my van alkoholisme genees het, want tot vandag toe het ek nog nie weer lus gekry vir ‘n dop nie.
Ek het besef dat daar ‘n paar dinge is wat drasties sal moet verander in my lewe. Eerstens moet ek ophou bedel en vir my ‘n werk kry. ‘n Vaste werk. Maar dis moeilik.
So kom ek toe maar by een van die kerke hier onder in die straat en ek druk die knoppie by die hek. ‘n Vrou antwoord. ‘Kan ek met die dominee of die pastoor of met ‘n berader praat asseblief,’ vra ek. ‘Soek jy kos?’ vra sy. ‘Nee.’ ‘Soek jy berading?’ vra sy. ‘Nee, net raad’. ‘Man, hier is niemand wat jou kan help nie.’
Voordat ek dink wat ek sê, vra ek haar toe: ‘Maar kan ek dan met Jesus Christus praat, ‘seblief?’. Vies antwoord sy: ‘Moenie laf wees nie! Hy is nie hier nie.’
Weet jy, toe ek daar wegstap, toe besef ek sy is reg. Hy is nie daar nie. Dominees en pastore en kerkmense is te besig vir my en mense soos ek. Hulle dink as hulle so once in a blue moon ‘n hit and run uitreikdingetjie doen, dalk ‘n kospakkie of klere los, het hulle hulle deel gedoen. Niemand stel regtig in ons belang nie. Nie almal van ons is sleg nie. Weet jy, die Here laat Hom nie agter palissades bêre vir Sondae nie. Hy is nie in mense met palissades om hulle harte nie.”
Die storie het my tot in my diepste geruk en ek het gewonder of ek die opdrag uitlewe: 3… Net so moet julle meegevoel hê met die mense wat sleg behandel word en swaarkry, asof dit julle self is met wie dit gebeur.
Teks
Hebreërs 13:1-8
Om oor na te dink
Hoe lyk jou meegevoel vir mense wat swaarkry?
Doen jy iets daaraan?
Maak jy werklik ’n verskil in ander mense se lewens?
Gebed
Here, mag ek nooit daar wees waar mense sê U nie is nie. Mag ek orals U saamneem en U hande en voete wees vir mense wat sleg behandel word en swaar sleep. Amen.