Moenie mors met God se genade
Baie mense verstaan nie die genade van die Here nie. Ons wat in ’n wêreld woon waar jy moet werk vir alles wat jy wil hê, verstaan nie dat ons genade gratis ontvang nie. Daarom wil mense baie keer ietsie doen vir genade.
Maar genade is nie “verdienbaar” nie. Genade het in die prentjie verskyn as gevolg van God se onverstaanbare liefde vir die mens. Dit is dan slegs hierdie onverdiende genade wat ons redding bewerk.
So sien ons in die wêreld ook baie plekke waar genade gratis uitgedeel word. Mense wat dit nie verdien nie en in hongersnood leef, kry bokse en bokse kos, gratis. Hulle verdien dit nie en tog oorlaai mense hulle met kos. Dis net genade.
Baie keer gebeur dit dat mense iets verkeerd gedoen het en in die tronk sit. Om een of ander rede kan die hoof van die land oortreders se skuld afskryf en swaai die deure van die tronk vir hulle oop. Dis net genade.
Die gevaar met dinge wat jy gratis ontvang, is dat mense daarmee begin mors. Dan werk die genade kontraproduktief. Mense wat die heeltyd kos ontvang, begin later mors met die kos. Hulle verstaan nie die waarde en die goeie daad nie. Later dring hulle daarop aan om gratis kos te ontvang.
So laat weet die mense op ons buurt se groepie dat ons nie moet kos gee vir die bedelaars nie. Die persoon het die smaaklike toebroodjie wat sy buurvrou met liefde gemaak het, opgetel in sy tuin.
Daar is beslis mense wat met die genade van die Here ook mors. Soms doen mense verkeerde dinge met die voorneme om maar net weer môreoggend om verskoning te vra.
Maar dit werk nie so nie. As ’n mens met opset verkeerde dinge doen om net weer môre te bely om so weer ’n skoon boekie te kry, mors ’n mens met God se genade en Sy vergifnis van sonde.
16God het julle vry mense gemaak. Julle moet dit egter nie as verskoning gebruik om te leef net soos julle wil nie, reg of verkeerd. Nee, julle vryheid kan nooit van julle mense maak wat nie in alles na God luister en nie maak soos Hy wil hê nie.
Ons moet besef dat daar duur betaal is as straf vir ons sonde. Ja, ons ontvang deur genade die verlossing gratis van God. Ons hoef nie daarvoor te werk nie. Maar Jesus moes daarvoor ly. Hy het met Sy lewe daarvoor betaal.
Wanneer ons besef wat Jesus moes deurgaan en wanneer ons besef hoe duur daar betaal is vir ons vryheid en wanneer hierdie transaksie se impak in ons lewe sy opwagting maak, kán ’n mens mos nie daarmee mors nie!
Dan word ’n mens eintlik beweeg om juis na God te luister en te maak soos Hy maak. Dan wil ’n mens op ’n manier teruggee wat ons ontvang het, al is dit heeltemal onmoontlik.
Dan kan ons nie anders nie as om uit dankbaarheid die wêreld in te gaan en werklik ’n verskil te maak.
Laat ons nooit mors met God se genade nie en seker maak dat ons presies doen soos Hy wil hê ons moet doen.
Teks
1 Petrus 2:13-17
Om oor na te dink
Hoe verstaan jy genade?
Doen jy altyd reg?
Waar mors jy dalk soms met God se genade?
Gebed
Vader, soms doen ek nie soos U wil hê ek moet doen nie. Soms trek ek ook ’n streep deur U genade. Vergewe my asseblief en help my om nie met U genade te mors nie. In Jesus se Naam vra ek dit. Amen.