God se Woord in vandag se woorde

Moet Jesus dit weer doen


Wanneer ons wiele afkom, wonder ons vinnig waar God is. As dit seer is en die pyn loop orals uit, wil ons weet wat van God geword het. Maar Hy is daar. Hy is altyd daar. Dis dalk juis die seer en pyn se skuld wat ons verblind vir God se teenwoordigheid in ons lewe.

Wanneer dit swaar gaan, moet ons juis aan ons geloof in God vashou. Ons moet aanhou om op Hom te vertrou. Al voel dit nie altyd so nie en al lyk dit vir seker nie so nie, moet ons glo dat God getrou is. Ons moet glo dat Hy ons die heeltyd vashou en bewaar.

Dalk speel die storie van jou lewe anders af as wat jy dit ge-picture het. Dalk het daar êrens dinge gebeur waar jy nie die regte keuses gemaak het nie. Dalk was dit iemand anders se keuses wat jou nou met die gebakte pere laat sit. Ten spyte daarvan sal God jou weer op koers kry om by Sy droom vir jou lewe uit te kom.

Ons moet glo dat God getrou is. Ons moet ons geloof sterk hou. Maar ai, by die geringste hobbel in die pad is dit ons geloof wat by die venster uitvlieg.

Amper soos Petrus se storie in een van die Apokriewe boeke:

Ná Pinkster word Jesus se volgelinge ernstig vervolg.

Petrus beraam planne om uit die stad te vlug vir sy eie veiligheid. Sluip-sluip loop hy hom onverwags teen Jesus vas wat met die kruis op Sy skouer loop.

Verdwaas vra hy: “Maar Here, hoe dan nou? U het dan opgevaar na die hemel!”

En Jesus sê: “Ja Petrus, maar dit lyk nie asof jy dit glo nie. Nou moet ek weer gekruisig word sodat jy kan glo.”

Is dit nie presies wat ons doen wanneer ons vertroue en geloof in God vervaag nie? Ons trek ’n streep deur Jesus se liefde vir ons. Ons vertrou nie dat God rêrig vir ons omgee en ons sal help nie. En nou moet Jesus weer aan die kruis gaan hang om ons geloof uit die stof op te tel.

Aikôna, so moet dit nie werk nie.

Hoor baie mooi die beloftes wat in God se Woord staan: 3Die Here is altyd getrou. Hy sal julle geloof sterk maak. Hy sal julle ook teen die Bose se aanvalle beskerm.

In hierdie kort versie is daar drie beloftes: God en Jesus is altyd getrou. Hulle is altyd presies dieselfde. Hulle liefde vir ons sal nooit ophou nie. Hulle sal ons altyd bystaan. Hulle sal altyd die omstandighede waarin ons nou is, gebruik om ons te vorm sodat ons dit eendag weer in Sy Koninkryk kan gebruik.

Tweedens los God ons nooit alleen nie. Hy weet ons gaan droogmaak. Soos pasgebore babas hulle ma nodig het om hulle te voed en by te staan in die groeiproses, só sal God ons ook help met ons geloof. Hy weet dat dit nie maklik is om van dag een af alles te glo nie. Dis ’n proses wat tyd neem. Daarom sal Hy ons ook hierin help.

Laastens sal Hy ons ook beskerm teen die aanvalle van die bose. Om elke hoek en draai gaan die bose probeer om ons van God se pad weg te lok. Ongelukkig gaan hulle dit dalk regkry dat ons nou en dan struikel, maar God sal ons wéér ophelp, ons geloof versterk en weer terug op die pad kry.

Daarom, weet met jou hele hart dat God getrou is. Versterk jou geloof met die hulp van die Gees. Baklei met alles in jou om nie in die wip van die bose te val nie. God sal jou al die pad beskerm.

Teks

2 Tessalonisense 3:1-5

Dink bietjie hieroor

Hoe lyk jou geloof in God?

Vertrou jy Hom met alles in jou lewe?

Glo jy Hy bly getrou?

Gebed

Vader, dankie dat ons ten alle tye kan glo dat U getrou is. Dankie dat U sonder uitsondering altyd U beloftes nakom. Net jammer dat my geloof gereeld in die hek duik. Help my en versterk my geloof in U. Ek vra dit in die kosbare Naam van Jesus. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek