God se Woord in vandag se woorde

Môre nie deur gister bepaal


Klik hier om na Sondag se preek van Renata van der Merwe: As jou geloof getoets word op YouTube te kyk.

Die mense aan wie Jakobus die brief skryf, ken van, soos die Engelsman sê, “Wheel and deal.” Die handelaars het op een plek voorraad aangekoop en dan na ’n volgende plek getrek om daar die voorraad te verkoop.

Dit kon maklik ’n jaar neem om van al die voorraad ontslae te raak.

Terwyl die handelaars in die dorp is, het hulle hul oë oopgehou vir enige ander produkte wat hulle kan aankoop en weer op ’n volgende plek kan verkwansel. Wanneer die voorraad wat hulle saamgebring het, uitverkoop is, neem hulle die nuut aangekoopte voorraad na ’n volgende dorp om te verkoop.

Die proses is herhaal totdat hulle genoeg geld gemaak het om terug te keer na hul oorspronklike dorp.

Dis met die handelaars wat Jakobus praat: 13Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.”

Op ’n manier kan ek die vraagtekens in die handelaars se oë sien. “Hoe bedoel jy nou Jakkie? Ons doen dit al vir jare. Ons ouers het dit gedoen. Ons oupas en oumas het dit gedoen. Dis ons manier van doen! Ons koop en verkoop nog altyd.”

Hulle maak egter ’n fout. Hulle dink omdat dit so in die verlede gebeur het, gaan môre en oormôre ook so lyk. Die verlede bepaal nie noodwendig die toekoms nie. Omdat dit gister en eergister so was, is dit nie noodwendig môre ook so nie.

Daar kan net iets gebeur. Die mark kan val. Die mense kan dalk in ’n nuwe of beter produk belangstel en met hulle neuse in die lug verby joune stap. Dalk breek die wa se wiel en al jou produkte spoel by die rivier af.

Ek ry saam met my vriend deur sy nartjies. Die bome dra swaar. Dis eintlik ’n see van oranje. Die vorige jaar het die boere sakke vol geld gemaak met die sitrus. Seker iets te doen met die vitamien C en die Covid-virus.

Vanjaar is die bohaai oor Covid verby en daar is nie meer so ’n behoefte aan vitamien C nie en hulle groot mark, Rusland, is aan die oorlog maak en geen lemoen of nartjie kan met die boot land nie.

Die prys val meer as 30% en watter boer kan so ’n val hanteer? Dis amper beter om die nartjies net daar te los. Môre word nie deur gister bepaal nie.

Ons lewe is nie in gister of vandag se hande nie. Ons moenie selfversekerd wees en dink dat ons weet wat gaan gebeur nie. Nee, daar is net Een wat weet en dit is God. Besef ons mense se tekortkomings. Weet dat ons geen beheer oor môre het nie.

Plaas eerder jou afhanklikheid in God. Vra Hom vir wysheid. Vra Hom om jou vandag, hier te lei, sodat jy die regte keuses maak om môre op die regte plek op te daag.

Teks
Jakobus 4:13

Om oor na te dink
Hoe lyk jou beplanning?
Hoeveel beheer het jy oor wat gaan gebeur?
Maak jy God deel van jou môre?

Gebed
Vader, ek besef dat ek te veel in beheer wil wees. Ek besef dat gister of selfs vandag nie noodwendig môre bepaal nie. Ek sit nou alles in U hande en vertrou U! In Jesus se Naam. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek