God se Woord in vandag se woorde

My uitdaging in perspektief


Party mense is vir oefen gebou. Party nie. Ek val pens en pootjies in die laaste kategorie. Ek weet nie hoekom dit so is nie, maar om te oefen, kom nie vanself vir my nie.

Ek het wel besef dat as ek wil eet wat ek eet en ek oefen nie, stoel ek soos ’n mushroom. Daarom dat ek myself na die oefenfiets toe sleep. En dis nogal snaaks hoedat as ek eers daarop is, ek nogal lank kan uithou.

As ek afklim, lê daar ’n jong dam van sweet. En alhoewel my asem erg raas en my hartklop in die rooi is, voel ek goed en weet dit was goed vir my en my liggaam. Ek kan weer die res van die dag lekker eet.

Een ding wat ek in die spin-klasse geleer het (deesdae doen ons dit mos via ’n toep), is dat jou liggaam eintlik meer kan oefen as wat hy dink. Dis so ’n bakleiery tussen jou kop en jou liggaam. Sommer vroeg begin die liggaam met jou kop smokkel en sê dis nou genoeg. Hy kan nie meer nie.

Dis sulke tye wanneer my kop maar net sterk moet wees en hy hom eintlik doof moet hou vir die liggaam se gesanik. Die kop weet dat die liggaam nog baie verder kan gaan. Hy weet daar sit baie meer in die liggaam, maar om die een of ander rede wil die ou dit mos altyd maklik hê en so min as moontlik doen. Vir oefen en so ‘n bietjie swaarkry, sien hy nie kans nie.

En is dit nie ook so in die lewe daar buite nie? Sodra die eerste stukkie swaar ons tref, begin ons ons speelgoed uit die cot gooi. Dan is dit die ergste ding wat met ons gebeur het en ons sien nie kans om aan te gaan nie.

Ons kla en spartel. Ons vertel vir almal dat ons nou onder gaan en dat hulle solank die liedere van die begrafnisdiens moet kies. Hierdie is die laaste strooi wat die kameel se rug gaan knak.

Maar is dit die swaarste?

4Julle het nog nie regtig so swaargekry as wat julle kan nie. In julle stryd teen al die slegte dinge het julle nog nie by die punt gekom waar julle moes kies tussen lewe en dood nie.

Daar is mense wat swaarder as ons kry. As ek myself vergelyk met ander mense wat al moes kies tussen hulle geloof of die dood en laasgenoemde moes kies, is my swaarkry eintlik maar net ’n briesie.

Dalk moet ons ons Martie-jammer-dinges-rokkies gaan uittrek. Dalk moet ek my swaar so ‘n bietjie in perspektief plaas. Dalk is dit net die liggaam wat so erg aangaan. Dalk moet ons met ons kop vir die ou lyf sê om eers rustig wees en te kyk hoe ’n mens die klip uit die pad gerol gaan kry.

Wanneer ’n mens jou probleem in perspektief sien en weet dat jy dit nie op jou eie hoef op te los nie, maar dat God met Sy Gees daar is om ons te help, kry ons weer moed om die bul by die horings te pak.

Hierdie een is dalk nie so maklik nie, maar mag jy jou pakkie swaar voor God se deur gaan neersit. Hy sal jou help!

Teks
Hebreërs 12:4-6

Om oor na te dink
Hoe sterk is jou kop?
Hoe groot is jou uitdaging?
Hoe groot is jou God?

Gebed
Here, ek hoor hierdie een, maar ek kry swaar. Al word ek nie met die dood vir my geloof gedreig nie, voel dit vir my of die uitdaging voor my deur my gaan doodmaak. Help my asseblief. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek